Local sportSport

Douw rig sy visier op Afrika-kampioenskappe

By ASA se nasionale byeenkoms vir jeug (o/18) en juniors (o/20) in die Paarl het hy losgetrek met 'n allemintige 19,99 m.

Toe Gauteng-Noord se Markus Kotzé die gewigstoottitel (seuns o/17) by die skolekampioenskappe met ‘n poging van 19,70 m ingepalm het, was Nellies se Douw Kruger (19,25 m) amper ‘n halwe meter agter in die silwermedaljeposisie.

Daar is sekerlik verwag dat Markus ook die jeugtitel sou wen, maar NHS se Douw het ander planne gehad. By ASA se nasionale byeenkoms vir jeug (o/18) en juniors (o/20) in die Paarl het hy losgetrek met ‘n allemintige 19,99 m. Markus was wel tweede, maar dié keer ‘n volle 1,05 m agter Douw. Douw Gerbrandt Kruger is einde 2018 deur Atletiek Mpumalanga as atleet van die jaar aangewys, dieselfde jaar wat sy afrigter DP Badenhorst as afrigter van die jaar gekroon is. Sy lys van prestasies is eindeloos.

DP en Douw.

Tydens ‘n onlangse oefensessie in voorbereiding op die Superinterhoër, is Douw met ‘n 3 kg-gewigstootbal raakgegooi en moes hy ses steke kry. Maar hy het steeds die oë laat rek toe hy die 5 kg-gewig op ‘n yslike 18,08 m laat grondvat het – ‘n afstand van internasionale standaard. ‘n Week later sou hy uitvind dat hy in dié ongeluk, harsingskudding opgedoen het. Nie een van sy lang lys van prestasies gaan egter na sy kop toe nie en hy is altyd bereid om junior atlete met worpe te help. Douw het ‘n ingebore talent vir sport.

Op laeskoolvlak het aan atletiek, rugby, hokkie en krieket deelgeneem en op hoërskool slegs rugby en atletiek. Tans beklee Douw die nr. 2-posisie op die wêreldranglys, met net Trinidad en Tobago se Jeron James (21,92 m op 14 Maart, in Port of Spain) wat vanjaar al ‘n beter afstand kon haal.

Die opoffering wat gemaak word vir lang ure se oefen, Maandag tot Saterdag, vakansies ingesluit werp – gemeet aan Douw se prestasies, vrugte af. Hester Postumus, voormalige sportafrigter by Laerskool Laeveld het tereg voorspel dat Douw ‘n Springbok-atleet is. Goud by die komende Afrika-kampioenskappe in die Ivoorkus is nou in Douw se visier.

DP word deur Douw sy ma Dot, as die beste afrigter waarvoor enige atleet en ouer kan wens, beskryf. “Hy bring die beste in sy atlete na vore. Hy is streng en hy weet presies waartoe sy atlete in staat is. Hy mis nie een van hulle byeenkomste nie. Hy en Joanita, sy vrou en NHS se biokenetikus, maak ‘n gedugte span. Ons as ouers, grootouers en sy sussie is vreeslik trots op hom en ons harte will bars daarvan,” vertel sy ma.

 

Lees ook: Goud by SA’s vir NHS se topatleet

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Stefan de Villiers

Stefan de Villiers, based in Mbombela, Mpumalanga, is currently the Editor at Lowvelder. He brings a wealth of knowledge and experience from previous roles at Lowveld Media, such as Sports Editor, Journalist and Photographer. He started on November 1, 2013.
Back to top button