Komati-tweekampatlete vereer vir gereelde deelname aan SA’s
Verskeie atlete van Komatipoort het verlede naweek vir 'n derde tot tiende keer aan die Suid-Afrikaanse Tweekampkampioenskappe deelgeneem en is vir dié prestasies vereer.
Agt tweekampatlete van Komatipoort het verlede naweek Mpumalanga by die SA Tweekampkampioenskappe in Port Elizabeth verteenwoordig.
Die groep het ‘n vyfde van die provinsiale span beslaan en sommige van hulle het al meer as drie keer aan hierdie jaarlikse byeenkoms deelgeneem.
Dit was die 10de agtereenvolgende jaar dat WG Engelbrecht, ‘n leerling van Komati Akademie, aan die SA’s deelgeneem het en hy het tydens die byeenkoms se gala-aand eervolle vermelding ontvang.
Volgens die voorsitter van Mpumalanga Tweekamp, Jan Engelbrecht, het dié jaar se byeenkomste die meeste deelnemers nog gehad – 829 atlete van regoor die land.
Tweekampatlete het tydens die byeenkoms die hoogste punte in hul ouderdomsgroepe probeer verwerf deur die vinnigste tye op kort afstande op land en in die water op te stel.
LEES: Riverview kids take on school’s annual bi- and triathlon
Jan verduidelik dat ‘n tipiese afstand ‘n kilometer hardloop en ‘n 100 m swem is. SA wenners kan gewoonlik die kilometer binne drie minute en die swem binne ‘n minuut voltooi.
Deelnemers het op die Nelson Mandela Universiteit se Tartan-atletiekbaan en by die binnenshuise swembad van Newtonpark meegeding.
Benewens WG se uitsonderlike prestasie, het ‘n paar ander leerlinge van Komatipoort Akademie ook die skool trots gemaak. Zarlia Engelbrecht het vir die sewende keer aan die SA’s deelgeneem, Wiam en Dieter Dedericks vir die vierde keer en Christn Engelbrecht en Inge Diederiks vir die derde keer.
Komatipoorter Lianie Janse van Vuuren, wat ‘n leerling van Hoërskool Nelspruit is, het vir die sewende keer aan die byeenkoms deelgeneem.
LEES: Komaties atlete swem en draf teen SA se bestes
Jan, wat die Komatipoorters afrig, het vir die agtste keer sy buiging by die SA’s gemaak. Hy sê dat die atlete elke jaar al teen September begin oefen en dit regdeur vakansies moet volhou.
Mpumalanga Tweekamp wil graag meer atlete betrek en skole aanmoedig om ook spanne in te skryf. Belangstellendes is welkom om Jan by 082-784-5682 te skakel of hom by jan@mindmatters.co.za te epos.
