Meestersatleet kry vyf medaljes by SA’s
Die 64-jarige Kitty Maree van Komatipoort het verlede week vyf medaljes in middel- en langafstande by die Suid-Afrikaanse Meestersatletiekkampioenskappe in Oudtshoorn verwerf.
Dis die eerste jaar wat Kitty Maree aan Meestersatletiek deelgeneem het en met harde werk het sy vyf medaljes by die Suid-Afrikaanse Meestersatletiekkampioenskappe in Oudtshoorn ontvang.
Dit was ook die eerste keer dat atlete onder Mpumalanga se vaandel kon hardloop.
Maree het in die 60- tot 64-jaar-ouderdomsgroep deelgeneem en silwermedaljes in 100 m en 400 m en bronsmedaljes in die 200 m, 1 500 m en 5 000 m ingepalm.
Sy vertel dat atlete hard moes werk om ‘n podiumposisie te verwerf, aangesien die kompetisie straf was. “Dit was ‘n wonderlike nuwe ervaring met ongelooflike sportmanne en -vroue. Dit was wonderlik om ‘n klomp bejaardes so te sien hardloop en veral ver- en hoogspring,” meen Maree.
Sy het baie geleer, nuwe mense ontmoet en vriende gemaak by dié groot byeenkoms.
Maree het deur die jare gereeld aan padwedlope deelgeneem en nege Comrades-, 12 Two Oceans- en 12 Loskop Ultra-marathonne en verskeie oorsese wedlope voltooi.
LEES: Egpaar sorg vier dekades vir Komatipoort
Sy vertel dat sy egter nie meer so ver kan hardloop nie, maar steeds die sport wil geniet en so van Meestersatletiek te hore gekom het.
“Jy oefen egter baie harder vir kort afstande as vir langes,” vertel sy. “Ek het Desembermaand op my eie begin oefen.”
Meestersatletiek nooi atlete van 30 tot 85 jaar om aan die verskillende veld- en baanitems deel te neem soos naellope, hoogspring en verspring.
Elke vyf jaar is saam in ‘n groep byvoorbeeld, 30 tot 34 en 70 tot 74.
Hierdie jaar was daar atlete van KwaZulu-Natal, Vrystaat, Wes-Kaap, Gauteng-sentraal, Gauteng-Noord en Mpumalanga. Atlete moet lid van ‘n hardloopklub, asook ‘n provinsiale meestersatletiekorganisasie wees.
Maree vertel dat baie min mense oor 30 bewus is van Meestersatletiek en dat hulle steeds na skool en universiteit dié sportsoort kan beoefen.
Dit is egter ‘n duur stokperdjie, aangesien daar min borge is en deelnemers self hulle provinsiale uitrustings, reisgelde en ander onkostes moet dek.
Dit maak deelname op nasionale en internasionale vlak ‘n byna onbegonne taak vir pensionarisse of mense naby aftrede.
Twee ander plaaslike meestersatlete, Lee du Plessis (63) en Issabel du Plessis (36) het tydens die Gauteng-Noord Meesterskampioenskappe in April gekwalifiseer vir die SA’s, maar kon weens ‘n gebrek aan fondse nie deelneem nie.
LEES: Ma en ouma van Komatipoort tel onder SA se beste atlete
Lee het vier goue medaljes gewen en ‘n hoogspringrekord verbeter en Issabel het twee silwer en ‘n brons verwerf.
Lee is in die SA span ingesluit en hoop om met die hulp van die gemeenskap en ander borge in September in Venisië te kan deelneem.
LEES: Meestersatleet berei voor vir internasionale byeenkoms
Maree het opgewonde genoem dat die SA kampioenskappe in 2021 in Mbombela aangebied word en sy hoop dat meer plaaslike atlete bewus en deel sal word van Meestersatletiek.
