NGA-gimnaste pluk vrugte van harde werk
Nelspruit-gimnaste van vlak 1 tot 3 het onlangs uitstekend in die eerste Mpumalanga-proewe wat by Hoërskool Bergvlam gehou is, gevaar.

Nelspruit-gimnaste van vlak 1 tot 3 het onlangs uitstekend in die eerste Mpumalanga-proewe wat by Hoërskool Bergvlam gehou is, gevaar.
Al 12 die seuns van Nelspruit Gimnastiekakademie (NGA) is vir die Mpumalanga-span gekies nadat hulle sewe goue medaljes en vyf silwer tydens die byeekoms ingeplam het. Bernard Calitz (vlak 3) het die hoogste gemiddeld tydens hierdie kompetisie behaal – 9,1.
Onder die dogtersgimnaste van NGA het 64 die Mpumalanga-span gehaal en 40 goue, 21 silwer- en drie bronsmedaljes verower. Teagan Pappas (vlak 1) het algeheel die hoogste gemiddeld in die kompetisie aangeteken – 9,4.
“Vlak 1 tot 3 is die basis van gimnastiek en uithouvermoë en harde werk is die sleutel tot vordering – elkeen in sy eie baan met sy eie unieke vermoëns. Die gimnaste wat bo uitkom, is dié wat aanhou hard werk en uithou wanneer die elemente elke jaar moeiliker word en nog meer fisieke vaardighede vereis. Hier is onder andere spierkrag en soepelheid noodsaaklike komponente wat met inoefening elke dag verbeter word,” het NGA se Maré Putter gesê.
Die gimnaste wat in Ermelo by die tweede Mpumalanga-proewe kwalifiseer, sal dan 13 tot 15 Junie in Pretoria aan die Noordsone- kampioenskappe, met vyf ander provinsies meeding.
