Die sportsterre is enige pa se trots
Van kleins af moet pa Werner van Zyl opdok vir 'n rugby-, krieket-, sokker-, enige bal. As Vaughn, Quinn en Chyle buite kan speel, is hulle in hul element.
‘n Pa wat saam met sy laaities in talle kamma-rugbywêreldbekers in hul agterplaas in Steiltes uitgedraf het, bars vandag van trots omdat hulle aldrie eersdaags as junior Pumas-kapteine of onderkapteine, hulle staal gaan wys.
Schools get rewarded for effort during Sappi Mankele MTB Challenge
Van kleins af moet pa Werner van Zyl opdok vir ‘n rugby-, krieket-, sokker-, enige bal. As Vaughn, Quinn en Chyle buite kan speel, is hulle in hul element. “Ten minste is dit nie TV-speletjies nie,” skerts hy.
“Daar was menige rugby- en kriekettoets in ons erf gespeel, en talle balle het in die buurman se erf beland en uiteraard ook in hul honde se kake,” vertel hy. Om die drie besige, honger manne groot te maak, sit egter nie in elkeen se broek nie. “Dit is waar hulle ma, Wanda inkom. Sy sorg dat tussendeur al die sport, skoolwerk ook ‘n prioriteit bly, en dat hulle goed eet. En kán hulle eet,” vertel hy tong in die kies.
Oud-Laevelder palm eerste plek in by Kona Yesterman in Hawaii
Werner self was ‘n kranige sportman, en het in onder meer atletiek, rugby en krieket geskitter.
Vaughn is die jongste van die drie. “Vaughn het ietwat swaar gekry, want in die agterplaastoetse was daar geen genade nie. Hy moes uit die aard van die saak talle opslagballe en duikslae in die gesig staar,” vertel Werner.
Sy liefde vir sport eindig egter nie by rugby nie. Hy is ‘n voormalige SA gewigstootkampioen (o/10), vaardig op die hokkieveld en het al selfs vir die Titans o/10A en o/11A krieket gespeel.
Hy neem vandag die leisels van die o/12A-Pumasspan as agtsteman in die provinsiale toernooi wat tans in Klerksdorp aan die gang is.
Quinn wys ook sy slag op die atletiekbaan en krieketveld, maar dit is by rugby waar sy groot liefde lê. Hy het in die verlede die Pumas (o/12A o/13XV en o/15A) verteenwoordig en vanjaar is hy onderkaptein van die Grant Khomo o/16A-span, waar hy as haker sy buiging sal maak. Die toernooi skop 24 Junie in Witrivier af.
Sterre van die toekoms maak hier hulle buiging
Chyle het dieselfde sportsoorte met sy broers geneem. Ook hy het die Titans (o/11A, o/12A, o/13A en o/15) op die Standardbank-week verteenwoordig. Hy het Hoërskool Nelspruit by die SA’s gewigstoot en spiesgooi o/15 verteenwoordig. Vanjaar draf hy uit as haker en kaptein van die Craven-weekspan wat vanaf 1 tot 6 Julie in Bloemfontein speel. Hy was ook al kaptein of onderkaptein van die Pumas se o/13A-Cravenweek-, o/16A-Grant Khomo- en o/16A-Cravenweekspan.
Al drie die seuns hoop om van sport ‘n loopbaan te maak.
“My grootste wens is egter dat die manne dankbaar moet wees vir die talente waarmee ons hemelse Vader hulle geseën het, nederig sal bly en dit net sal geniet om te jol,” het hy afgesluit.
