Malelane karatekas beweeg na ‘n nuwe vlak
Die JSKA Malelane-dojo se leerlinge het in Junie hulle halfjaar-gradering gedoen om 'n volgende kleur band te verwerf en almal het puik gevaar.
Leerlinge van die JSKA Malelane-dojo is in Junie bevorder na ‘n volgende kleur band nadat hulle die halfjaar-gradering suksesvol voltooi het.
Leerlinge word twee keer ‘n jaar getoets op hulle basiese vaardighede, kata (reeks van bewegings) en kumite (gevegte) tydens gradering.
Karatekas was op die vlak van groen band of hoër is, veg teen enige beskikbare opponent om hulle durf en praktiese toepassing van bewegings ten toon te stel.
LEES: Malelane karatekas wys hul dissipline en veggees tydens jaareindgradering
Ruan Maritz is die student wat tans die vêrste gevorder het en pak volgende die gradering vir die eerste dan swart band aan. Dit gaan egter baie voorbereiding en oefening verg om die hoë rang te bereik.

Alex Odendaal en Jacques de Kock is tydens die gradering as die karatekas van die dag aangewys.
Sensei Grobbies van der Westhuizen verduidelik dat karate ‘n gevorderde manier van selfverdediging is en aspekte soos dissipline, karakter, respek en selfbeheer ontwikkel. Dit werp nie net vrugte in kinders se persoonlike lewens af nie, maar ook met hulle skoolwerk.
READ: Kenya’s Karate Grannies Master Self-Defense
Die Malelane-dojo bied op Maandae en Woensdae van 18:00 tot 19:00 klasse in die Hervormde Kerk in Fish Eagle Bend aan. Leerlinge word gewoonlik aangemoedig om tussen 35 en 40 ure te oefen voordat hulle aan ‘n volgende gradering deelneem.
Die dojo se volgende gradering sal tesame met die jaarlikse prysuitdeling in November gehou word.
Van der Westhuizen het ook genoem dat sensei Soon Pretorius binne die volgende paar maande selfverdedigingsklasse vir belangstellendes in Malalane sal aanbied.
