
Warm harte steek ander aan die brand.
Min gesegdes beskryf die aansteeklikheid van liefde en barmhartigheid, of eerder warmhartigheid, tydens vanjaar se Sunbake Innibos-gholfdag.
‘n Byna volbespreekte veld van spelers het nie net hulle harte nie, maar ook hulle hande en beursies oopgemaak teenoor die Innibos Meridian Educational Trust.
“Alle winste wat uit die gholfdag genereer word, sal aan die trust geskenk word om ‘n talentvolle minderbevoorregte leerder die kans te gun op ‘n hoërskoolloopbaan,” het Mariolise le Roux, organiseerder van die dag en Innibos se bermarkingsassisstent, gesê. Dit was die eerste gholfdag wat sy behartig het en ook die eerste keer wat Sunbake die hoofborg was.

‘n Behoeftige leerling van Curro Meridian wat later geïdentifiseer gaan word, wie se ouers gesamentelik met minder as R10 000 per maand oor die weg moet kom, gaan danksy ‘n insameling van ongeveer R75 000 in 2020 hoërskool toe.

“Skoolfonds, koshuisgelde, remediërende onderwys en die aankoop van ‘n tabletfoon en ‘n skooluniform is deur die dag se opbrengs moontlik gemaak,” het Le Roux gesê.

“Dit was ‘n dag van pret en plesier. Ons wil graag al die betrokkenes vir hul deelname bedank.”

Nagenoeg 182 spelers het douvoordag die woelige feesterrein vir ‘n gesellige potjie gholf op Mbombela Gholfklub verruil. Die twee Tessners, Deon en Kyle, se 54 punte was genoeg om ‘n welverdiende eerste plek te haal en het hulle ‘n geskenkpak van Sunbake gewen. Mauritz Dewling en André van der Walt het met 48 punte as naaswenners geëindig. Basie Bergh en sy spanmaat, Mari Jaquire was derde met 47. Beide tweede en derde plekke het met tablette weggestap.

In ‘n herhaling van die onlangse KLCBT Gholfdag, het Justin van Staden weer die prys (‘n Nespresso-koffiemasjien) vir die langste dryfhou op die 18de putjie gewen.

Spanmaat Jean Nel het met ‘n gesenkpak van Sunbake weggestap, nadat hy die naaste aan die pen op die 17de putjie geland het.























