Local sportSport

Gimnaste se harde werk werp vrugte af

Twaalf jong gimnaste van die AeroArt Gymnastic Academy in Komatipoort het onlangs goue en silwermedaljes by die Noordelike Sone Vlak 1-3-kompetisie in Johannesburg verwerf.

Gimnaste van Gauteng, Limpopo, Noordwes, KwaZulu-Natal, Vrystaat en Mpumalanga het die naweek wat die skole gesluit het, by die Klipriviersberg-ontspanningsentrum byeengekom vir die Noordelike Sone Vlak 1-3-kompetisie.

Die groep van Komatipoort het sedert hulle op 11 Mei by die Mpumalanga-proewe in Alberton vir die byeenkoms gekwalifiseer het, hard geoefen vir hulle laaste en grootste byeenkoms van die jaar.

Die vlak 1-gimnaste, Janke Liebenberg en Danique du Preez het albei vir die eerste keer aan die sonebyeenkoms deelgeneem en goue medaljes vir vry- en toudans in die o/8-afdeling verwerf.

Janke Liebenberg en Daniqua du Preez spog met hul medaljes.

Onder die vlak 2-gimnaste het Riandie Kruger en Marli Esser ook die eerste keer aan so ‘n byeenkoms deelgeneem. Hulle, asook Maryna Opperman, het silwermedaljes in die o/9-afdelings vir vry- en hoelahoepeldans gekry.

Leani Lombard het ‘n goue medalje en Maegan du Preez en Ydene Smith, silwermedaljes in die o/10-afdeling vir vry- en hoelahoepeldans verwerf.

Vlak 2-gimnaste Ydene Smith, Riandi Kruger, Maryna Opperman, Maegan du Preez en Leani Lombard.

Die vlak 3-meisies het ook baie goed gevaar. Kaitlynn Williams het ‘n goue medalje in vry- en baldans en sesde plek in die o/11-afdeling ingepalm.

Courtney Steyn het ook ‘n goue medalje en Meya Kleynhans ‘n silwer in die afdeling gekry.

Ty-Anne du Preez het ‘n goue medalje in die o/10-afdeling van die vry- en baldans verwerf.

Die akademie se afrigter, Ezielle Basson, vertel dat die meisies goed gevoel het oor die kompetisie en hard geoefen het om die prestasies te verwerf.

LEES: Ma en ouma van Komatipoort tel onder SA se beste atlete

‘n Goeie gimnas het uithouvermoë, ‘n goeie sportmangees en selfvertroue nodig om te presteer. Basson vertel dat gimnaste hulle koppe hoog moet hou al maak hulle foute. “Jy moet net aanhou en jou beste gee tot die laaste toe, en nie halfpad opgee omdat jy weet jy ‘n fout gemaak het nie,” sê sy.

AeroArt Gimnastic Academy is in die middel van 2017 gestig en die gimnaste het verlede jaar aan hulle eerste ritmiese gimnastiek-kompetisies deelgeneem.

Hulle neem tans elke jaar aan twee klubkompetisies, Mpumalanga-proewe en die sonebyeenkoms deel.

LEES: Komati-stoeiers kry medaljes by stoeifees

Basson sê dat die groep in Februarie met artistiese gimnastiek begin het en volgende jaar aan hulle eerste kompetisies in hierdie gimnastieksoort sal deelneem.

Tans oefen die ritmiese gimnaste Maandae en Woensdae en die artistiese gimnaste Dinsdae en Donderdae.

Back to top button