Local sportSport

Leeus behaal eenpuntoorwinning teen Pumas

Die Curriebeker het die afgelope naweek met 'n riller van 'n wedstryd afgeskop.

Die Curriebeker het die afgelope naweek kookpunt bereik toe die Xerox Golden Lions die eerste ronde van die reeks teen die Phakisa Pumas met ‘n oorwinning afgeskop het.

Die Leeus het op hulle tuisveld hulle kloue in die mees kritieke oomblik van die wedstryd in die Pumas ingeslaan en met ‘n eenpuntoorwinning weggestap nadat Leeu-losskakel, Shaun Reynolds oor die doellyn gebars het, en sy eie drie maklik verdoel het.

Die tuisspan het die wedstryd vol selfvertroue aangepak, na die afgelope vyf Curriebeker-kragmetings in hulle guns geval het. Ondanks twee reuseterugslae waarin gesogte slotte, Cameron Lindsay en Hugo Kloppers deur beserings gekortwiek is, was die indrukwekkende Pumas honger om die seisoen op ‘n hoë noot af te skop.

Lees ook: Reuseterugslag vir Pumas voor Curriebeker

Dit het vrugte gewerp met ‘n rustydtelling van 17-14. Stefan Willemse, wat in 2017 by die Pumas aangesluit het, en Le Roux Roets wie se kontrak onlangs by die Waratahs beëindig is, het as slotpaar uitgedraf en hulle goed van hul taak gekwyt.

Briljante balsteler Carel du Preez, wat Saterdag weer sy skoene in die nommer 7-trui volgestaan het, het na ‘n hanteerfout van heelagter Tyrone Green, die Pumas se eerste, en ook sy eerste Curriebeker-drie, in die derde minuut van die wedstryd aangeteken – ‘n beloning vir rotsvaste verdediging wat die Leeus uit die staanspoor onder druk geplaas het.

Kobus Marais, wat beslis sy skopskoen aangetrek het, het twee punte tot die telbord bygevoeg met ‘n suksesvolle doelskop. Oomblikke later het die Leeus ‘n aanval geloods waarin binnesenter Wayne van der Bank ‘n gaping gevind het. Madosh Tambwe aan sy buitekant het die praglopie met ‘n drie afgerond en sake was na ‘n suksesvolle doelskop, gelykop.

Madosh Tambwe, Foto: Lions Rugby Company.

Blitsige voetwerk deur Marais het die geleentheid gebied vir Roets wat aan sy sy was om sy derde Curriebeker-drie onder die pale te druk. Nadat Marais onder gevaarlike spel in ‘n losgemaal gebuk gegaan het, kon hy drie punte tot die telbord voeg.

Dié oortreding het die Leeus ‘n geelkaart in die sak gebring en moes hulle vir 10 minute sonder Rhyno Herbst klaarkom. Kort voor rustyd was sake weer gelykop na ‘n stormlopie deur Tambwe en ‘n suksevolle doelskop deur Reynolds. Na onwettige skrumwerk het Marais ‘n strafskop deur die pale gestuur.

Agsteman James Venter het van die afskop ‘n gaping gevind en deur die Pumas se verdediging gebars. Met Green aan sy binnekant kon die Leeus nog vyf punte by die telbord voeg wat deur Reynolds verdoel is.

Marais het ‘n verdere drie punte bygevoeg, en ‘n besluit om eerder die kantlyn op te soek het ontaard in ‘n drie deur Etienne Taljaard.
Marais het sy foutvrye voet ingespan om nog twee punte aan te teken, gevolg deur ‘n strafskop wat die telling tot by 30-21 kon help.

Lees ook: U/16 Pumas show their class in spirited win

Alhoewel dit nog vroeg in die reeks is, sal die drie deur die Pumas in die 60ste minuut van die wedstryd waarskynlik as een van die beste spandrieë onthou word. Morgan Naudé het die lopie met ‘n drie afgerond wat weer eens deur Marais verdoel is – sy 17de punt vir die span.

Met ‘n spoedvraat soos Tambwe op vleuel, het die Leeus briljant gedoen om die bal so vinning as moontlik te hanteer, wat ‘n verdere twee drieë vir hulle tot gevolg gehad het. Die wedstryd is met ‘n drie deur Reynolds en ‘n telling van 39-38 beklink.

Here are the fixtures for the rest of the season

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Stefan de Villiers

Stefan de Villiers, based in Mbombela, Mpumalanga, is currently the Editor at Lowvelder. He brings a wealth of knowledge and experience from previous roles at Lowveld Media, such as Sports Editor, Journalist and Photographer. He started on November 1, 2013.
Back to top button