Local sportSport

Plaaslike fotograaf se wêreldbekerdrome eersdaags ‘n werklikheid

Canon is een van die hoofborge en Canon SA het gereël dat Orton Canon Japan se toerusting gratis kan gebruik - enige van sy keuse.

Toe plaaslike fotograaf, Johan Orton sy eerste Springboktoets in 2011 op kamera vasvang, het hy sy asem uitgeblaas en gedink, nou is my droom bewaarheid.

Min het hy geweet dat agt jaar later hy een van net vier Suid-Afrikaanse fotograwe wat akkreditering vir die Rugby Wêreldberker in Japan gekry het, sou word. “Met 26 toetse agter die blad, is hierdie beslis die kersie op die koek. Die Here seën my met soveel geleenthede.

Elke geleentheid en oop deur wat ek deur middel van fotografie gekry het, is net as gevolg van Hom. In die eerste plek kan ek net daagliks op my knieë gaan en Hom bedank vir die talent en die geleenthede. Partykeer voel dit vir my ek verdien dit nie; ek is ‘n sondaar en ten spyte van al my menslike foute, seën die Here my uit my sokkies uit,” het Orton vertel.

Lees ook: Robbies breëbors na oorwinnings

Vir die Wêreldbeker, doen nagenoeg 6 000 fotograwe aansoek, waarna slegs 240 geakkrediteer word. “Spesifieke wedstryde word dan aan die mees senior fotograwe toegestaan,” verduidelik hy.
Orton vertrek eersdaags om SA teen Nieu-Seeland, Skotland teen Ierland, Wallis teen Georgië en SA teen Namibië, te gaan afneem. Hy is veral verheug om saam met legendariese fotograaf, Wessel Oosthuizen te reis. “Om by hom te leer gaan ongelooflik baie vir my beteken. Hy is ‘n groot held, vriend en amper soos ‘n oupafiguur vir my,” vertel Orton.

Vir die wat nie weet wie Oosthuizen is nie, daardie bekende foto van Frik du Preez in die laat 1960’s wat vir Chris Laidlaw van die All Blacks plat duik, is deur oom Wessel geneem. Hy is vanjaar 76 en is al jare by die Springbokke betrokke. ‘n Wendrieduik-foto van ‘n Springbokspeler tydens die groepwedstryd teen die All Blacks, op 21 September in Yokohama City, is daardie een foto wat Orton hoop om te kry.

Also read: Nellies-afrigter by Afrikaspele

Sy voorliefde vir fotografie het begin toe sy pa en naamgenoot die saadjie vir fotografie in gr. 6 geplant het. Hy het hom toe al, op sy Pentax-film K1000, die regte, basiese beginsels soos sluiterspoed, kykspleet en ISO geleer. Later, tydens sy hoërskoolloopbaan het Orton ‘n gevorderde Canon-kursus voltooi en was op daardie stadium ook by die Nelspruit-fotografieklub betrokke. Tot vandag is Orton ‘n lojale Canon-gebruiker. Deesdae skiet hy met ‘n Canon 1DX merk 2 en Canon 5D merk 4. “My gunstelinglense is my 300 mm F2.8, en my 70 -200 F2.8.”

Maar niks hiervan hoef saam met Orton te reis nie. Canon is een van die hoofborge en Canon SA het gereël dat Orton Canon Japan se toerusting gratis kan gebruik – enige van sy keuse.

“Toerusting speel ‘n groot rol in fotografie. Fotograwe wil dit nie erken nie, maar kom ons wees nou maar doodeerlik – hoe beter toerusting jy het, hoe beter is jou foto’s. Natuurlik speel ervaring ‘n rol, maar 70 persent gaan oor watter toerusting jy gebruik,” het hy vertel.

“In die begin het ek meer op landskappe gefokus, maar tydens my termyn as bemarker by Ride Magazine het my liefde vir sportfotografie ontwikkel. Ons het die Absa Cape Epic gedek en een van ons hooffotograwe, Gary Perkin moes om een of ander rede op kort kennisgewing onttrek. Ek het toe ingestem en myself beskikbaar gestel, waarna my eerste aksiefoto’s gevolg het,” het hy vertel.

‘n Voorblad of twee van gewese bergfietsheld, Burry Stander het gevolg, en volgens Orton het die saadjie daar behoorlik ontkiem.

Tydens die Cape Epic, het Absa (ook dieselfde jaar die Sprinbokke se hoofborg) se bemarkingsbestuurders hom genader om by die Bokke betrokke te raak. Vandag is Absa egter nie meer ‘n borg nie, en Orton is as die amptelike ASICS Suid-Afrika borgfotograaf tydens Springboktoetse aangewys.

“Omdat ek met ‘n filmkamera begin het, moes ek maar die basiese beginsels van ‘n handleiding leer; daar was nie outo-knoppies nie. Daardie tyd het ons met films gewerk, vinnige films en stadige films. Toe die digitale era intree was dit eintlik maklik om aan te pas.”

Sy grootste forografieles is om nooit jou foto’s met ander te vergelyk nie. “Ek neem en kompeteer teen myself. My foto’s verskil van my kollegas s’n – ek het ‘n ander styl. Wat vir my mooi is, is nie noodwendig vir ander mooi nie. ‘n Mens hou nooit op om te leer nie; die dag wat jy ophou leer is die dag wat jy jou laaste asem uitblaas.”

Die moeilikste omstandighede waarin Orton al moes foto’s neem, was die Cape Epic in 2014. “Dit was nat – en die destydse Sasol Rally in 2016 was stowwerig – by beide geleenthede het my toerusting houe gevat,” vertel hy.

Hier is van Orton se top foto’s:

Also read: Local sportsmen De Freitas and Mhango takes the spoils at MP Awards

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Stefan de Villiers

Stefan de Villiers, based in Mbombela, Mpumalanga, is currently the Editor at Lowvelder. He brings a wealth of knowledge and experience from previous roles at Lowveld Media, such as Sports Editor, Journalist and Photographer. He started on November 1, 2013.
Back to top button