Hier is jou kind se kans om saam met die Pumas op die veld uit te draf
Hier is ook die span wat die WP vanaand op Nuweland aanpak.

Na afloop van ‘n tuiswedstryd op Mbombela-stadion kan die jongspan skaars wag om die veld te bestorm en hulle gunsteling-Pumasspelers te ontmoet.
Die Phakisa Pumas kom volgende naweek in waarksynlik hulle laaste tuiswedstryd teen die Toyota Free State Cheetahs te staan.
Die kans van ‘n leeftyd wag egter op 46 ondersteuners tussen die ouderdomme van 5 en twaalf. Volgens Jimmy Stonehouse, hoofafrigter van die Pumas, is hulle opsoek na een kind om elke speler volgende naweek op die veld te vergesel.
“Ouers moet egter vinnig spring, want slegs die eerste 46 persone wat inbel gaan by die geleentheid ingesluit word,” het Marius van Rensburg, spanbestuurder van die Pumas gesê.
Die wedstryd vind Saterdag 17 Augustus om 14:00 by die Mbombela-stadion plaas. Van Rensburg kan by 082-960-1732 geskakel word.
‘n Titaniese stryd wag egter eers op die Pumas wanneer hulle vanmiddag teen WP op Nuweland te staan kom. Die WP lê tans vierde op die Curriebeker-punteleer na hulle derde wedstryd. Die Pumas het reeds vier wedstryde gespeel, en het Saterdag hulle eerste oorwinning teen die Cell C Sharks op Mbombela-stadion beklink.
GALLERY: Pumas clinch first Currie Cup game against Sharks
Die tuisspan staal hulleself vir Siya Kolisi, wat vir die eerste keer sedert 2014 in sy 30ste wedstryd vir die WP gaan uitdraf. Hy sal sy plek as flank volstaan.
Beserings het die Pumas hierdie week weer geknou. Henko Marais het Saterdag tydens hulle kragmeting met die Sharks ‘n kuitbesering opgedoen en sal Saterdag deur Alwayno Visagie vervang word. Die presiese omvang van sy besering is onbekend.
Kaptein Ryan Nell skuif dus na binnesenter en Lewellyn Isbell vervang vir Visagie op die reserwebank.
Die wedstryd sal regstreeks op DStv kanaal 201 uitgesaai word.
Hier is die span: Phakisa Pumas vs WP, 09 Aug 2019

