Local sportSport

V&A: Ontmoet kranige roeier, Gustav Smook

Smook is onlangs gekies om sy land op die Wereldkampioenskappe vanaf 17 tot 20 Oktober in Shaoxing, Sjina te verteenwoordig.

Gustav Smook, ‘n graad 12-leerling van Hoërskool Nelspruit, is ‘n kranige roeier en is onlangs gekies om sy land op die Wereldkampioenskappe vanaf 17 tot 20 Oktober in Shaoxing, Sjina te verteenwoordig.

Slegs twee plekke word deur die Internasionale Kano-federasie, aan K2 o/18, o/23 en senior Suid-Afrikaners gegee.
Gustav het ‘n goeie voorseisoen gehad en het ook baie goed by die Suid-Afrikaanse kampioenskappe, wat vanaf 16 tot 18 Junie by die Cradle Moon Lake net buite Johannesburg plaasgevind het, presteer. Sy roeimaat is die Kapenaar, Bartho Visser van Paarl. Laevelder het met Gustav gesels.

V: Hoe het jy sover in jou voorseisoen gevaar?
A: Ek het verlede jaar met Bartho baie goed by die WP Marathon-kampioenskappe gevaar. Ons het ook die o/18-afdeling op die Breederivier Kano-marathon (SA K2) gewen en was baie tevrede met ‘n algehele vyfde plek. Daarna het ons besluit om albei hard te oefen vir die marathonseisoen van 2019. Ons het die SA’s aangepak as buiteperde, om ‘n plek vir onsself in die Suid-Afrikaanse span oop te roei tussen ouens wat al ervare internasionale roeiers is.

V: Jou pa is ook ‘n baie ervare roeier. Is dit waar jou passie vir dié sport vandaan kom?
A: Verseker. Ek het langs die riviere grootgeword toe my pa deelgeneem het. Ek het maar net altyd geweet dat ek dit ook graag eendag sal wil doen. Ons praat baie roei en taktiek in ons huis.
My pa het my glad nie gedwing om te oefen toe ek jonger was nie – ek het maar speel-speel geleer om te roei. In graad sewe het ek self besluit om rugby vaarwel te roep om bietjie meer ernstig te begin roei.
Hy ondersteun my baie en ek kan nog baie by hom leer. Sy passie vir die sport is aansteeklik.

V: Neem jy ook aan ander sport deel?
A: Ek ry graag bergfiets en het vir my skool hokkie gespeel. Ek moes verlede jaar die moeilike besluit neem om skoolsport te los om te konsentreer op dit wat ek wou regkry met my kano.

V: Om in dieselfde span ingesluit te wees as wêreldbekende roeiers soos Hank McGregor en Andy Birkett, moet ‘n reusevoorreg wees?
A: Sjoe, dit is. Hank en Andy is al vir jare kampioene. Suid-Afrika se roeiers doen baie goed internasionaal en wêreldwyd kyk roeiers op na hulle.

V: Hoe gereeld oefen jy en waar?
A: Ons oefensessies is hoofsaaklik op Longmeredam, net buite Witrivier. Dit is ook waar Lowveld Canoe Club is. Ek oefen op die oomblik ses dae ‘n week en volg ‘n streng program. Daar is tye wat ek tweemaal per dag moet oefen. Ek sou gesukkel het om so hard te oefen as dit nie was vir die ander roeiers in ons klub nie.

V: Wat is jou planne vir volgende jaar?
A: Ek beplan om ‘n BSc-rigting aan die Universiteit van Stellenbosch te studeer. (Daar is natuurlik ‘n aktiewe roeiklub!)

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Stefan de Villiers

Stefan de Villiers, based in Mbombela, Mpumalanga, is currently the Editor at Lowvelder. He brings a wealth of knowledge and experience from previous roles at Lowveld Media, such as Sports Editor, Journalist and Photographer. He started on November 1, 2013.
Back to top button