Local sportSport

Pumas behou plek in Curriebeker-premierliga

In 'n seisoen waar die muntstuk in die guns van hulle teëstanders geval het, het hulle laaste punteleer geëindig.

Die Phakisa Pumas het Vrydagaand hulle plek in die Curriebeker Premierliga met ‘n wegholoorwinning van 49-5 teen die Down Touch Griffons behou.

Dié promosie-/relegasiewedstryd volg nadat byna al die wedstryde in die tuisspan se Curriebeker-veldtog, soos aas uit ‘n vis se bek gegryp is.

Also read: Pumas fall to Cheetahs – could face relegation

In ‘n seisoen waar die muntstuk in die guns van hulle teëstanders geval het, het hulle laaste punteleer geëindig.
Vrydagaand, met Mbombela Stadion se veld amper onder water, was dit as’t ware ‘n geveg vir oorlewing. Die Griffons was die naaswenners van die eerste divisie, en het gespeel vir ‘n kans om in 2020 saam met die groothonde te hardloop. Albei het dus baie op die spel gehad, en het die wedstryd aangepak asof hulle lewens daarvan afhang – maar die Pumas was net daardie tikkie hongerder.

Die spanne het die veld opgedraf met giftige agterlyne en die taktiek was uit die staanspoor duidelik – gebiedvoordeel en hoë balle om die spanne in die nat toestande op die proef te stel.

Die Pumas het kort na die afskop bloedgetrek, met Chris Smith wat die eerste strafskop deur die pale gestuur het – die Griffons het nie vinnig genoeg na ‘n duikslag weggerol nie en die oortjie van die seekoei het begin wys.
Die Griffons se Robbie Putter het kort daarna ‘n geleentheid om die telling te ewenaar, deur sy vingers laat glip.

Goeie ritme en intensiteit het beslis nie geskort nie, maar dit was egter moeilik om goeie aanskoulike rugby uit te voer en hanteerfoute was volop aan die kant van die Pumas. Die Griffons het egter hul man gestaan, en elk van die min geleenthede wat hulle gekry het, benut.
Met die bal in die Pumas se hand moes die Griffons bontstaan. Dit was ‘n kwessie van tyd voor die damwal sou meegee. Verbasend genoeg het die Pumas slegs 11 punte gehad om daarvoor te wys. Dit kan grootliks toegeskryf word aan hulle hanteerfoute en vier drieë aan albei kante wat óf deur die kantlyn óf ‘n vorentoe aangee verhoed is.


Daar was egter een faktor wat die Griffons onderskat het, en dit was die Pumas se agttal. Dit gebeur min dat die Pumas hulle teëstanders se agttal so oorrompel, en soos die minute op die telbord minder geword het, het hulle begin verkrummel. Die Griffons se bene het begin wankel en hulle kon net nie meer by die Pumas kersvashou nie. Marko Janse van Rensburg het vir die Pumas se eerste drie gesorg, danksy ‘n magtige rolmaalbeweging oor die doellyn.

Welgedaan Morgan Naudé, Janse van Rensburg, Marné Coetzee, Le Roux Roets, Stefan Willemse, kaptein en man van die wedstryd Jeandre Rudolph, Carel du Preez en Willie Engelbrecht, en plaasvervangers Simon Westraadt, De-Jay Terblanche, Hilton Lobberts, Phumzile Maqondwana en Ngonidzashe Chidoma wat die veld voor hulle skoongevee en volgehoue druk behou het. Teen rustyd het die besoekers ses strafskoppe afgestaan teenoor die Pumas se twee.

Na rustyd het ‘n verfrisde Pumas-span op die veld gedraf – uiteindelik bereid om die afgelope seisoen agter te laat en rugby te speel! Oorheersde balbesit en gebiedsvoordeel, goeie taktiese skopwerk, akkurate ingooie in die lynstane, goeie balretensie, minder hanteerfoute, rotsvaste verdediging en natuurlik daardie skrum, om maar net ‘n paar te noem, was genoeg om die Griffons se doppie finaal te klink. Die momentum het ten volle in die rigting van die Pumas geswaai. Hulle was onstuitbaar, en Janse van Renburg is oor vir ‘n byna identiese tweede drie en Smith het sy eerste doelskop deur die pale gestuur.

Strukture wat soms nie vir die Pumas in plek was nie, sou egter in ‘n wedstryd teen sterker teëstanders hulle duur te staan gekom het.
Maar wankelrugby het reusegapings in die Griffons se agterlyn gelaat. Rudolph, die man van die wedstryd, was grootliks daarvoor verantwoordelik dat die bal vinning in die agterlyn versprei was. Deur sy hande is Luther Obi in sy tweede wedstryd vir die Pumas oor vir sy eerste, en hulle derde drie. ‘n Moeilike skop deur Devon Williams is tydens sy 50ste, en laaste wedstryd vir die Pumas, in styl deur die pale gestuur.

Slordige spel deur die Griffons het hom kort daarna deur ‘n reusegaping laat glip, maar onselfsugtig het hy die bal aan Ashlon Davids gegee om die drie aan te teken. Hy is onnodig laat deur die Griffons geduik en het die veld verlaat.

Smith, ook in sy laaste wedstryd vir die Pumas, het twee punte bygevoeg en die telling verder laat rek. Die Griffons, wat die wedstryd aangepak het om die premierliga te haal, het nou begin speel asof hulle niks het om te verloor nie. Hulle was op hulle agtervoete.
Na ongeveer 77 duikslae kon die Griffons uiteindelik oor die doellyn bars vir hulle eerste drie deur Danrich Visagie.

Om sout verder in die wonde te vryf, is Alwayno oor vir ‘n onderskepdrie en kort daarna, Obi vir sy tweede drie na ‘n spoglopie van die afskop af – weer eens ‘n produk van goeie spel deur Rudolph en Japie Kleynhans.

Ontmoet: Marius van Rensburg

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Stefan de Villiers

Stefan de Villiers, based in Mbombela, Mpumalanga, is currently the Editor at Lowvelder. He brings a wealth of knowledge and experience from previous roles at Lowveld Media, such as Sports Editor, Journalist and Photographer. He started on November 1, 2013.
Back to top button