Carla Potgieter kort jou stem!
Carla Potgieter (29), 'n fiksheidsinstrukteur van Mbombela, is vasberade om die volgende gesig én ambassadeur van USN en Fitness Magazine se Face of Fitness te wees.

Aan haar toewyding skort daar niks – sy swoeg en sweet, het ‘n ystersterk wil en kén van ysters pomp. Carla Potgieter (29), ‘n fiksheidsinstrukteur van Mbombela, is vasberade om die volgende gesig én ambassadeur van USN en Fitness Magazine se Face of Fitness te wees.
Gaan loer jy na Potgieter se Facebook- en Instagram-profiele, sien jy sy is die toonbeeld van dissipline en deursettingsvermoë. Hoewel sy in haar skooldae haar staal vir NHS se eerste netbalspan gewys het, en al die afgelope agt jaar as fiksheidsinstrukteur werk, het sy eers sowat twee jaar gelede op haar liggaamsbou begin fokus, en die resultate spreek boekdele.
Een van haar plasings op sosiale media is onder meer van haar merkwaardige transformasie in hierdie kort tydperk – van ‘n “sagte” liggaamsbou in 2017 na ‘n gesnyde, ferm een, waar sy spog met ‘n blokkiesmaag, bultende biseps en gesnyde bobeenspiere.
Sy is die ooglopende toonbeeld van ‘n gesonde lewenstyl en dit is presies waarna USN en Fitness Magazine op soek is. “Die USN Face of Fitness soek iemand wat hulle handelsmerk kan verteenwoordig. Iemand wat ‘n gesonde lewenstyl volg, fiks en gesond lewe, maar tog ‘n liggaamsbou het wat volhoubaar is deur die loop van die jaar. Iemand wat ‘n passie het vir wat hulle doen en ‘n inspirasie kan wees vir ander, ” het Potgieter vertel.
“Daar is net daai iets spesiaal aan die sport; dis soos ‘n dwelm. Ek kan myself nie ‘n dag insien sonder om te gym nie. Die manier hoe jy ‘n persoon se liggaam kan verander van niks tot iets is waarvoor ek elke dag lewe,” voeg sy by, en vertel dat dit meer is as net ‘n stokperdjie. “Dit is my werk en my passie.”
Vir Potgieter om deel te word van die Face of Fitness, moes sy nie net ‘n video en ‘n reeks foto’s van haarself instuur nie, maar maak ook nou staat op die publiek om haar droom te help bewaarheid. “As ek die top 12 haal, of nog beter, die top drie, kan dit baie deure vir my oopmaak. Dit sal vir my die nodige publisiteit gee wat ek nog altyd nodig gehad het om ‘n verskil in die industrie te maak.
“Ek voel daar is so baie jong meisies daar buite wat met my kan identifiseer en vir wie ek ‘n rolmodel en inspirasie kan wees. As ek ‘n verskil in ‘n handjievol dames se lewens kan maak, het ek my doel bereik.”
Stem hier
Die sluitingsdatum is vandag om 22:00. Die top 12 sal dan Maandag aangekondig word.
KYK: Plaaslike kampioen in liggaamsbou praat oor pad na herstel




