Nelspruit o/17’s wen BUCO Mpumalanga 7’s-toernooi
Hoërskool Barberton was tydens die afgelope naweek se BUCO Mpumalanga 7's-toernooi weer die tuiste vir aanskoulike rugby.

Nagenoeg 22 skole van regoor die provinsie het die koue Laeveld kom trotseer, en gesorg vir 166 wedstryde se witwarm aksie. Op eie bodem het Hoërskool Nelspruit, Rob Ferreira, Penryn, Lydenburg, Bergvlam, Lowveld High, Curro, Uplands en natuurlik die gashere Barberton die streek verteenwoordig.
Hoewel dit twee dae van gemengde welslae vir die Laeveld en omstreke was, het dié skole se o/15’s en o/17’s hulle staal goed teen onder andere Middelburg, Piet Retief, Secunda, Ermelo, Witbank, Oosterland en Hoogenhout, om maar net ‘n paar te noem, gewys.

Die room van die plaaslike skole was egter Hoërskool Nelspruit se o/17’s, wat as Mpumalanga-kampioene weggestap het. Afrigter Hennie Skorbinski vertel dat hulle tot dusver in die reeks slegs een van 24 wedstryde verloor het – in die eindstryd verlede naweek teen Middelburg.
Nie net het die NHS-span met die louere weggestap nie, maar hul sterspeler Douw Kruger is as speler van die toernooi (o/17) aangewys.
Middelburg se o/15’s is in hulle afdeling as Mpumalanga-kampioene gekroon en Braam de Jager is as speler van die toernooi aangewys. Die skeidsregter van die toenooi was Shemea Mishiribinde. NHS se o/15’s was die plaatwenners, gevolg deur Barberton in sesde plek, en Curro Nelspruit in sewende.

Rob Ferreira, Lowveld High en Uplands het onderskeidelik die tiende, 11de en 12de plekke beklee. Bergvlam het in 15de plek geëindig, gevolg deur Penryn in 19de en Lydenburg in laaste.
In die o/17-wedstryde het sake aansienlik beter gelyk met ses van die top 10 plekke wat deur die streek se skole beklee is. NHS was die wenners, en Rob Ferreira het as plaatwenner weggestap.

In sesde plek was Lydenburg, gevolg deur Curro Nelspruit in sewende, en Barberton op nommer agt.
Lowveld High het die tiende plek beklee en Penryn het 14de geëindig, gevolg deur Bergvlam en Uplands. Die gasheer het vir BUCO bedank vir hulle volgehoue en lojale ondersteuning.
Photo credit: Stefan de Villiers and Hennie Homann HHPhotographyxpress.co.za












