Ystervrou vermag die byna onmoontlike
Sy het binne 21 maande nie net tot 'n ywerige Warrior Race-deelnemer ontwikkel nie, maar 'n allemintige 42,1 kg afgeskud.

Minder as drie jaar gelede was ‘n gemaklike leefstyl nog vir Lezanne van Wyk (33) die norm. Sy het egter binne 21 maande nie net tot ‘n ywerige Warrior Race-deelnemer ontwikkel nie, maar ‘n allemintige 42,1 kg afgeskud.
Sy is ‘n bewys dat jy met die regte ingesteldheid én motivering die bykans onmoontlike kan vermag.
Dit was toe Van Wyk se beste vriendin, Charilize Bronkhorst, haar uitgedaag het, toe sy finaal besluit het om in te gryp en skaars drie jaar later wys sy haar staal in die Warrior Race – 42,1 kg ligter, gesonder en sterker.
Lezanne, die oudste dogter van dr. Attie en Walda van Wyk, is in 1986 in Pretoria gebore en het skaars twee jaar later ‘n Laevelder geword. Vir jare het sy ‘n onaktiewe leefstyl gelei.
Sy vertel dat sy een aand laat deur Bronkhorst uitgedaag is om soveel moontlik gewig te verloor, om sodoende later ‘n gedaanteverwisseling te ondergaan. “Ek
het die uitdaging met ope arms aanvaar,”
vertel sy.
Sy het terstond by Vanessa Sueltz van Bodies in Motion Fitness Training aangesluit. “Sy het ‘n lus vir oefen by my aangewakker en voor ek my oë kon uitvee was ek
15 kg ligter,” vertel sy. Min het sy in 2017 geweet dat sy vir die volgende 21 maande douvoordag sou opstaan om te oefen.
“Oefen en ‘n gesonde leefstyl het my passie geword,” het sy gesê, dit danksy volgehoue ondersteuning deur haar familie en vriende, wat duisende motiveringsboodskappe gestuur het. “Maar, my geloof in liewe Jesus was my gróótste motiveerder.”
In September 2018, net minder as ‘n jaar nadat sy die uitdaging aanvaar het, het sy die USN 12-week-uitdaging van Annelize Dohne, van Born to Dominate Female, aangepak. “Ek het aanlyn vir drie maande haar program gevolg,” vertel sy. Dit het twee oefensessies per dag gevat, en een weeklikse weegsessie, om ‘n verdere 13,9 kg af te skud. “Ses etes per dag, USN-aanvulling, baie water, dissipline en gym, gym, gym,” sê sy, was nou die daaglikse program.

Sy het dieselfde uitdaging weer gevolg, en tot Januarie vanjaar nóg 10 kg verloor. Sy fokus deesdae om haar lyf meer te kondisioneer, deur ‘n aanlynkursus van Peter Gaiser te volg.
“Ek was gedemotiveerd. Ek het nooit gedink ek sal ‘n uitdagende resies soos die Warrior Race aanpak nie, maar ek het dit oorwin. ‘n Mens moet die regte ingesteldheid hê, en in jouself glo,” sê sy is die geheim om dié leefstyl vol te hou.
Lees ook: Adrenaline junkies give it their all in the Toyota Warrior Race
