Local sportSport

Bybelvers gee liggaamsbouer vertroue om kampioen te word

Hy kan nou met trots sê dat hy die beste junior liggaamsbouer in die land is.

Alles word bepaal deur tyd en geleentheid. Was dit nie vir dié woorde uit Prediker nie, het plaaslike liggaamsbouer Stefan Marais dalk nooit eens sy verskyning by die IFBB-nasionale kompetisie gemaak nie.

KYK: Plaaslike kampioen in liggaamsbou praat oor pad na herstel

Maar, hy het, en kan nou met trots sê dat hy die beste junior liggaamsbouer in die land is.

Die geleentheid het homself voorgedoen toe Marais onlangs sonder veel voorbereiding by die Mpumalanga provinsiale kampioenskappe met die louere weggestap en sodoende vir die nasionale kompetisie gekwalifiseer het. Danksy twee vriende, Mark Whelan en Francois Buchswenter, het Marais die geleentheid wat op sy pad gekom het, ondersoek, gebruik en gewen.

Hy het aanvanklik nie sy visier hierop ingestel nie. Dié 21-jarige takbestuurder van Muscle Mecca in i’langa Mall was besig om voor te berei vir Muscle Mulisha wat op 28 September plaasvind, maar Whelan het ‘n ander idee in gedagte gehad.

“Hy het potensiaal in my gesien, al was ek twee weke van my eintlike kompetisie af weg. Hy het steeds geglo ek is in goed genoeg kondisie om SA’s te doen. Ek het toe die kans gewaag en ingestem. My finansies het dit egter nie toegelaat nie, maar hy het aangebied om al die kostes te delg,” vertel Marais.

Twee ure later is hy Vanderbijlpark toe waar hy by Whelan oornag het. Vrydag het hy ingeskryf en die Saterdag deelgeneem.

“Die oggend van die kompetisie kon ek glad nie slaap nie. Dit was net na middernag toe ek in die sitkamer gaan sit. Ek was bewus van die kwaliteit van atlete wat die kompetisie gaan staan, en ek was baie gespanne. Ek het nie eens gedink ek gaan top ses haal nie,” vertel hy.

Buchswenter het die aand vir hom ‘n Bybelvers uit Prediker gestuur, wat lui: “Verder het ek in hierdie wêreld gesien: dit is nie die vinnigstes wat die reisies wen nie, nie die sterkstes wat die oorlog wen nie, nie dié met wysheid wat kos het nie, nie die verstandiges wat ryk word nie, nie dié met kennis met wie dit goed gaan nie. Alles word bepaal deur tyd en geleentheid.”

Marais het aanvanklik nie veel daarvan gemaak nie. “Toe ek weer deur my foon gaan toe ek sukkel om te slaap, het ek weer op die versie afgekom. Ek bars toe dadelik uit in trane en kry hoendervleis. Net daar en dan het ek geweet ek gaan die volgende dag die SA- kampioen wees. Ek het ‘n video aan Buchswenter gestuur, en vir hom vertel dat ek gaan wen. Min het ek geweet ek gaan ‘n opvolgvideo stuur waarin ek sê dat ek gewen het.

“Dit het my weer eens gewys dat my sukses sover absoluut niks sonder die mense in my lewe beteken nie. As dit nie vir Mark was wat die geleentheid vir my geskep het nie, of vir Francois wat vir my die motivering gegee het nie, sou dit nooit moontlik kon wees nie,” het Marais afgesluit.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button