NHS se DP Badenhorst binnekort by wêreldkampioenskappe
Naas die Olimpiese Spele is hierdie die grootste atletiekbyeenkoms ter wêreld.

Die Khalifa Internasionale Stadion maak gereed vir 2 000 atlete van 213 lande en speel eerdaags gasheer vir die atletiek-wêreldkampioenskappe vanaf 27 September tot 6 Oktober te Doha, Katar. Op eie bodem is DP Badenhorst, Hoërskool Nelspruit se sportspesialis in atletiek, onlangs as lid van die Atletiek Suid-Afrika-spanbestuur aangewys, en sien hy daarna uit om met afrigters van regoor die wêreld te vergader.
Naas die Olimpiese Spele is hierdie die grootste atletiekbyeenkoms ter wêreld. Die SA-span van 31 atlete bestaan uit 26 mans en vyf vroue. Die groep word gelei deur die wêreldkampioen, Luvo Manyonga, wat sy wêreldtitel in verspring sal verdedig.
Suid-Afrika het algeheel derde geëindig in die medaljetabel tydens die 2017 IAAF Wêreldkampioenskappe in Londen, toe hulle drie goue (Manyonga – verspring, Semenya – 800 m, Van Niekerk – 400 m), een silwer (Van Niekerk – 200 m) en twee brons medaljes (Samaai – verspring, Semenya – 1 500 m) huis toe gebring het.
“Dit is ‘n goeie geleentheid om te leer, en ook ‘n bevestiging dat ek op die regte pad as afrigter is,” het Badenhorst gesê.
