Hanco gaan by Olimpiese Spele armdruk
Nel is al vir die afgelope 10 jaar die heersende nasionale nommer een in die swaargewig-kategorie in dié ongewone sport.

Argeoloog Robert Bakker het eendag gesê dat jy dalk teen ‘n T-Rex-dinosourus kan armdruk, en jy dalk sal wen, maar dat jy liewer nie moet nie, want dit sal die reptiel net kwaad maak.
Met die eerste oogopslag lyk dit of plaaslike armdrukker, Hanco Nel, glad nie kan kwaad word nie. Inteendeel, hy lyk meer soos ‘n gemoedelike teddiebeer.

Dit is egter tot jy sy armspiere sien bult, dat jy besef hoekom hierdie atleet onlangs gekwalifiseer het om by die volgende Olimpiese Spele vir Suid-Afrika in armdruk te gaan verteenwoordig.
Hy vertel dat hy elf jaar gelede eintlik per toeval by armdruk betrokke geraak het.
“My niggie was in ‘n ernstige ongeluk betrokke, en ek het sommer vir die pret aan ‘n kompetisie deelgeneem om fondse in te samel, en toe doen ek baie goed. Die armdruk-federasie het my gekontak en ek het ernstig begin deelneem.”
Twee jaar later word Nel nommer een in die swaargewig-kategorie, waar hy al vir tien jaar onoorwonne is. In ‘n verdere merkwaardige prestasie is Nel al vir sewe jaar lank die nommer een armdrukker in die land.
Hy verduidelik dat hy ‘n spesiale armdruk-tafel het waarop hy teen ander teenstanders oefen, en dat hy ook daagliks in die gimnasium met gewigte oefen om in top kondisie te bly.
LEES OOK: Laerskool Laeveld hou massa-atletiek
Nel gaan nou internasionaal begin deelneem, en hy verduidelik dat dit sy doelwit is om onder die top drie in die wêreld te wees – verkieslik nommer een, natuurlik.
Hy het verlede naweek sy titel suksesvol by die Suid-Afrikaanse kampioenskap verdedig. By dié kompetisie word deelnemers in gewig- en ouderdomsklasse opgedeel. Nel gaan volgende jaar – wanneer hy 40 word – vir die eerste keer in die meestersklas deelneem.

Armdruk het die afgelope twee jaar vinnig gegroei en daar is tans ongeveer 200 deelnemers wat aan die nasionale kampioenskap deelneem.
In armdruk word die volgende vier spiere meestal gebruik:
Boarmspier: brachii, pronator teres, pectoralis major en flexor carpi ulnaris. Ander spiere soos die deltoid, latissimus dorsii en onderarmspier brachii word ook gebruik.
Armstoei is ‘n sportsoort waarby twee deelnemers deelneem. Elkeen plaas een arm op ‘n oppervlak met hul elmboë gebuig en raak aan die oppervlak, en hulle gryp mekaar by die hand. Die doel is om die ander se arm op die oppervlak vas te pen, die wenner se arm oor die verloorder se arm.
