Local sportSport

Nuwe Otter SA-rekordhouer ‘n Laevelder

Hy het vermag wat nog geen Suid-Afrikaner kon nie.

Terwyl die Keniaan Eliud Kipchoge Saterdag die sogenaamde “sport-maanlanding” gemaak het toe hy 42,2 km in minder as twee ure afgelê het, het ‘n rekord ook op eie bodem gespat.

Johardt van Heerden, ‘n 26-jarige plaaslike prokureur en atleet, het op dieselfde dag as Kipchoge vermag wat nog geen ander Suid-Afrikaner kon nie: die uitmergelende Otter Classic-veldwedloop in 04:02:59 afgelê – die vinnigste tyd nóg deur ‘n Suid-Afrikaner.

In dieselfde asem het Natia van Heerden, sy niggie, ‘n oorwinning in haar ouderdomsgroep by die Ysterman Wêreldkampioenskappe in Kona, Hawaii behaal.

Johardt van Heerden is die middelkind van vyf. “My pa is ‘n afgetrede predikant en uit die aard van sy beroep het ons heelwat rondgetrek oor SA toe ek jonger was, maar die afgelope 11 jaar het ek my in Mbombela bevind,” vetrel hy.

Van Heerden se pa was self ‘n kranige atleet en het in sy jong dae Johardt, sy broers en suster afgerig. “Hy het die liefde vir hardloop gekweek en my ouers het baie uitgawes aangegaan om ons die beste geleenthede te gee. Hulle liefde en ondersteuning het gehelp dat ons nie gedruk gevoel het om sport te beoefen nie, en eerder later self die keuse kon maak,” vertel hy.

Lees ook: Thermocline bags the win at LBT final

“Die wen by die Otter was groot, maar beslis nie die toppunt nie. Ek sal graag aan die Golden Trail Series regoor die wêreld wil meeding, vir die geleentheid om met die wêreld se bestes mee te ding.
Die Otter-roete is nie net een van die mooiste, maar ook een van die uitdagendste marathonroetes in die land – dalk selfs in die wêreld.

Ek het hoendervleis gekry en net die oomblik probeer indrink. Die feit dat mens by 7 000 trappe moet klim en meer as 2 300 m klim op marathonafstand, maak dit beslis uitdagend,” sê Van Heerden.

“Dit bestaan uit 11 groot klimme en afdraendes, dus is die impak van die terrein enorm op jou bene. Ek het vir maande lank konstant geoefen en heelwat tyd in die Drakensberge bestee as voorbereiding vir die roete,” voeg hy by.

“My mikpunt was om die rekord te verpletter. Geen Suid-Afrikaner kon nog naby aan sub-vier ure kom nie en die feit dat nog net een persoon, Marc Laurenstein van Switzerland, die enigste is wat al onder vier ure ingekom het op die Otter Classic-roete, wys watter groot uitdaging dit is. Marc is onder die top vyf beste marathon-atlete ter wêreld.

Photo: Jacques Marais

“Ek dink wel 03:50 is moontlik, en dit sou ‘n perfekte dag wees. Ek wil volgende jaar teruggaan en dit doen,” sê hy. “Ek is baie dankbaar en is uit die aard van die saak baie opgewonde oor wat voorlê, aangesien dié net die begin is. Die belangrikste is om nederig te bly en aan te hou hard werk,” sê hy. Hy sluit af deur Natia geluk te wens met haar oorwinning.

“Ek weet hoe hard en gedissiplineerd sy geoefen het en weet hierdie is net die begin van baie groot dinge vir haar. Ons spot altyd en sê dat dit onregverdig is teenoor ons mede-atlete, aangesien ons die voordeel het van Van Heerden-gene,” skerts hy.

Die gevoel was wedersyds en Natia het hom ook gelukgewens. “Ons is natuurlik baie baie trots op Johardt. Hy pluk die vrugte van sy harde werk en ek kan nie wag om te sien hoe hy verder verbeter en rekords breek nie,” het sy gesê. Om vir die Wêreldkampioenskappe voor te berei, het Natia in Januarie vanaf die Laeveld na Port Elizabeth verhuis. “My oefendae was lank. Ek het in 16 weke slegs vier dae af gehad en soms tot agt ure per dag geoefen,” vertel sy en voeg by dat die Wêreldkampioenskappe bestaan uit 3,8 km swem, 180 km fietsry en 42,2 km hardloop, op Kona, die grootste eiland van Hawaii.

“Ek het nie geweet wat om te verwag nie, of waar ek gaan plaas nie, want almal wat deelneem moes iewers ‘n resies gewen het om te kwalifiseer. So ek het maar net my afrigter se plan gevolg en presies gedoen wat hy gesê het ek moet. En gelukkig was dit goed genoeg om te wen,” vertel sy.

“Toe ek uit die water geklim het, was ek sewe minute agter. In die eerste 10 km het nog ‘n atleet in my ouderdomsgroep my gevang. Ek het konsentreer om koelkop te bly en my hartklop hoog te hou. Ek het nagenoeg vyf vroue verbygesteek en vier minute na die voorloper van my fiets afgeklim.Na ongeveer 12 km kon ek eers die vier minute opmaak. By die hardloop, het ek my spoed gehou en net die resies geniet.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Stefan de Villiers

Stefan de Villiers, based in Mbombela, Mpumalanga, is currently the Editor at Lowvelder. He brings a wealth of knowledge and experience from previous roles at Lowveld Media, such as Sports Editor, Journalist and Photographer. He started on November 1, 2013.
Back to top button