Drikus Joubert se kort gholfloopbaan bereik kookpunt
Hy is vir die tweede agtereenvolgende jaar as Mpumalanga Juniorgholfstigting se algehele speler van die jaar aangewys en sy ere-kleure ontvang.

‘n Opwindende sportjaar vir plaaslik-gebore Drikus Joubert het hom onlangs in Middelburg ‘n rits toekennings in die sak gebring.
Joubert, wat tans 38ste op die Golf RSA-ranglys vir o/19 gholfspelers geplaas is, en 57ste in die ope-amateur afdeling, is op die ouderdom van 17 – slegs drie jaar nadat hy daardie perfekte swaai bemeester het – vir die tweede agtereenvolgende jaar as Mpumalanga Juniorgholfstigting se algehele speler van die jaar aangewys en het hy sy ere-kleure ontvang.
In die proses is hy gekies vir die o/19 Mpumalanga interprovinsiale span en vir sy deelname in ten minste twee kwadraat-toernooie met ere-kleure vereer.
Vir nagenoeg 80% deelname van die provinsie se toernooie het hy goud ontvang.
Drikus is ‘n bekende gesig in die Laeveld en bevind homself deesdae in PT Golf Academy in Bankenveld.
Nuwe Otter SA-rekordhouer ‘n Laevelder
Hy het in ‘n kwessie van drie jaar ongelooflike hoogtes bereik. Vroeër vanjaar is hy gekies vir die SA Streekspan en is aangewys as die Laeveld- en Hoëveld se speler van die jaar, om maar net ‘n paar prestasies te noem.
Verder het hy tydens die Middelburg-, Staderton-, Bankenveld-, Malalane-, en Kambaku-ope, asook die Mpumalanga Geslote Toernooi, met die louere weggestap.
