Nellies se krieketspanne maak geskiedenis
Vir slegs die tweede keer in Laerskool Nelspruit se bestaan het al vier krieketspanne gekwalifiseer om in die Mpumalanga Grootskole-liga te speel.

Die vorige keer was in 2017 toe al vier Nellies se spanne as Mpumalanga-wenners uitgetree het.
“So, vanjaar was die uitdaging groot om weer die prestasie te kon ewenaar. Alhoewel ons vanjaar net een kampioen het, is ons egter steeds baie trots op al ons spanne wat die finaal gehaal het en steeds tweede in die provinsie is,” het Johan Orton, media-skakelbeampte, gesê.
LEES OOK: Laerskool Laeveld hou massa-atletiek
Die Nellies se o/12-span het teen Laerskool Middelburg op laasgenoemde se tuisveld gespeel en met sewe paaltjies gewen. Nellies het die loot gewen en Middelburg eerste ingestuur om te kolf.
Middelburg is vir 74 lopies uitgehaal. Die Nellies het die telling met slegs drie plat paaltjies, verbygesteek (75/3).
Wat hierdie span so spesiaal maak is dat hulle nou vir die vierde jaar agtereenvolgend die Mpumalanga-kampioene is. Sedert hulle as o/9-spelers saamspeel, het die spannetjie nog nie ‘n wedstryd verloor nie. Hulle het al 59 wedstryde gespeel en 59 gewen in vier jaar.
Die o/13’s het teen Laerskool CR Swart se o/13’s verloor nadat die hoogste kolf-metode die wenner bepaal het nadat weerlig in die omgewing die wedstryd kortgeknip het.
Die o/11’s het met 28 lopies teen Laerskool Kanonkop verloor.
Die o/10’s het teen Laerskool Klipfontein met 41 lopies verloor.
