Pumas se Devon Williams as Speler van die Jaar aangewys
Dit is die eerste keer sedert hy in 2016 sy WP-trui vir dié van die Pumas verruil het, dat hy met die welverdiende titel as Speler van die Jaar wegstap.

Weerlig kan inderdaad nie net twee keer op dieselfde plek slaan nie, maar agt keer – veral as dié weerligstraal se naam Devon Williams is.
Dié 27-jarige Pumas-heelagter het Vrydagaand by die swierige 2019 Phakisa Pumas Cirque du Soleil-toekennings by die Barnyard Teater, met ‘n allemintige agt toekennings in ‘n splinternuwe Ford Figo weggery – die perfekte erkenning vir ‘n jaar van meesterlike spel.
Dit is die eerste keer sedert hy in 2016 sy WP-trui vir dié van die Pumas verruil het, dat hy met die welverdiende titel as Speler van die Jaar wegstap.
In die SuperSport-uitdaging, waarin die Pumas tweede geëindig het maar eerste op die punteleer, het Williams onderskeidelik as speler- en agterspeler van die toernooi weggestap.
In ‘n Curriebeker-veldtog waarin die tuisspan die wind van voor gekry het, het Williams ook hier die titel van rugbyspeler- en agterspeler van die jaar opgeraap. Nadat hy vanjaar agt maal agter die doellyn gaan kuier het, het hy die titel vir meeste drieë ingepalm.

Vir 50 verskynings in sy pienk trui het hy ‘n spesiale toekenning ontvang en is ook deur die publiek aangewys as Sport Unplugged se beste ambassadeur. Reynier van Rooyen se lojaliteit is beloon nadat hy in die Curriebeker-kragmeting teen die Griekwas sy 100ste wedstryd gespeel het. De-Jay Terblanche het vroeër vanjaar sy buiging vir die Isuzu Southern Kings in die PRO14-reeks gemaak, en het daarvoor ‘n spesiale toekenning ontvang.

Jeandré Rudolph, wat die afgelope tyd die leisels by beseerde Ryan Nell oorgeneem het, is as die SuperSport Uitdaging se voorspeler van die jaar aangewys, en sy spanmaats het hom as algehele speler van die jaar benoem.

Die spelers wat die beste vordering getoon het, was Japie Kleinhans en Marné Coetzee.
Chris Smith, 2018 se speler van die jaar, se skopskoen het sy deel deur en deur gedoen en hom die toekenning van meeste punte vir die jaar besorg. Hy het ‘n totaal van 119 punte aangeteken.

Die André Green-toekening vir die mees belowende speler van die jaar, is aan Le Roux Roets oorhandig. Roets het is ook as die Curriebeker-voorspeler van die jaar aangewys.

Die Airlink-drie van die jaar, aangewys deur die publiek, was dié van Etienne Taljaard. Willie Engelbrecht is genomineer vir die grootste duikslag, en het met die Forestry Plant and Equipment-trofee weggestap.

“Ongelooflik dankie vir al die borge, groot en klein, wat dit vir ons moontlik maak, en die span se bestaan moontlik maak, en om rugby te dryf. Baie dankie aan Nelspruit Ford wat aan boord gekom het om ‘n speler te borg. En ook dankie aan die gemeenskap van Mbombela wat bankvas agter ons gestaan het die afgelope seisoen – ons sien uit na die nuwe een. Vir die hele Pumas-opset – ongelooflik dankie vir ‘n ieder en ‘n elk vir dit wat julle doen,” het afrigter Jimmy Stonehouse gesê.

Lees ook: Phakisa Pumas’ Golf Day was certainly a whole new ball game
Hier is meer foto’s van die aand: Phakisa Pumas sluit die jaar op ‘n hoë noot af
