Nellies kraai koning by Topskole Swemgala
Sestien skole van regoor Mpumalanga, insluitend die gasheer Penryn, het Vrydag tot na sononder, asook Saterdag, hulle slag in die water gewys.

Laerskool Nelspruit het onlangs by die Provinsiale Topskole Swemgala skokgolwe deur die gasheer se swembad gestuur.
Sestien skole van regoor Mpumalanga, insluitend die gasheer Penryn, het Vrydag tot na sononder, asook Saterdag, hulle slag in die water gewys. Van al die skole het Laerskool Nelspruit gemaai onder die toekennings, en as algehele wenners van die byeenkoms weggestap, nadat die junior seuns, junior dogters, senior seuns en senior dogters koning gekraai het. Onder die juniors is Dandré Louw as beste individu vir die dag aangewys.
Hy het onderskeidelik twee eerste plekke in die o/9 100 m-wisselslag met ‘n tyd van 1:41,18, en die 25 m-rugslag o/8 in 21,51 sekondes, kafgedraf, en by drie items, naelskraaps in tweede plek geëindig.
Eben Terblanche is as die beste senior individu vir sy prestasie in die 50 m-vryslag, wat hy in ‘n tyd van 30,69 sekondes voltooi het, aangewys, en Jean-Arno Cilliers, ook van Nellies, was die senior victor ludorum. Hy het onder andere in die o/13- tot u/14-borsslag, 50 m-rugslag, 50 m-vryslag, 50 m-vlinderslag en 200 m-wisselslag, in eerste plek geëindig.
Zoe Morgado was die junior ster van Curro en is as beste junior individu aangewys. Sy het ook die titel as junior victrix ludorum ingepalm. Schalk Loock van Bergland was sy skool se trots toe hy as junior victor ludorum aangewys is.
Cambridge se Tamara Viljoen het skoonskip gemaak onder die seniors en het as victrix ludorum en beste individu vir 50 m-vryslag weggestap.
“Ons is ongelooflik trots op al die Nellies se swemmers wat die skool se naam hoog gehou het,” het die skool se skakelbeampte, Johan Orton, gesê. Die gasheerskool het hulle dank betoon aan Mpumalanga Swimming, die skole wat die byeenkoms meegemaak het en almal wat ‘n bydra tot die dag se sukses gehad het.


















