Local sportSport

Antoni Theron vorder met rasse skrede

Hy is dalk nog 'n melkbaard, maar met die talent wat hy reeds op 13-jarige ouderdom in gholf toon, is dit net 'n kwessie van tyd voor hy in dié sportsoort gaan naam maak.

Ivano Ficalbi, staan opsy. Antoni Theron van Curro is dalk nog ‘n melkbaard, maar met die talent wat hy reeds op 13-jarige ouderdom in gholf toon, is dit net ‘n kwessie van tyd voor hy in dié sportsoort gaan naam maak.

Lees ook: Els leads strong local field for Alfred Dunhill Championship

‘n Mens kan sê dat hy ‘n natuurlike aanvoeling vir die sport het. Uit die staanspoor het hy die regte temperament daarvoor getoon, alhoewel hy ‘n balsport-fanatikus is wat tennis, krieket en hokkie speel. Hy het selfs die onlangse Laeveld-onafhanklike skole landloopfinaal in Sabie kafgedraf.

Maar gholf bly sy gunsteling, en in die beste ronde tot dusver, ‘n gesogte 74, is hy onlangs as die Mpumalanga Laerskole gholfkampioen aangewys. Hy was onder 11 ander spelers wat die Laeveld in die Hoëveld gaan verteenwoordig het.

Antoni, wat volgende jaar Hoërskool Nelspruit toe gaan, het van kleins af ‘n groot belangstelling in gholf getoon. Hy het van die ouderdom van vier af met ‘n plastiese stokkie saam met sy pa begin speel, en kort daarna met lesse begin; vandaar het dit net vlamgevat.

Sy ma, Schizelle, vertel dat hy Graceland Gholfbaan in Secunda, waar die kampioenskappe aangebied is, aan die brand gespeel het. “Ten spyte daarvan dat Antoni nog nooit vantevore op Graceland gespeel het nie, het hy met slegs 74 houe koning gekraai,” vertel sy en voeg by dat hy op die tweede nege, sy beste ronde tot dusver, van 33 houe, gespeel het – drie onder baansyfer.

Also read: Prestige in play at national Pro-Am

Hy het drie houe vir ‘n arend net-net op die setperk misgeloop – maar op putjie 17 met ‘n baansyfer van vier, het hy van 80 m af die bal direk vir ‘n arend in die gat laat beland.

“Die Laeveld beleef ‘n groot oplewing as dit kom by laerskole gholf,” vertel Schizelle.

Na sy wen – sy grootste oorwinning nóg – het hy, 11 ander seuns en ses dogters, na die interprovinsiale toernooi wat vanaf 2 tot 3 Desember te Evander en Secunda plaasvind, deurgedring.

Antoni droom om eendag ‘n gholfbeurs te ontvang om te gaan studeer, en as alles goed uitwerk, selfs ‘n professionele speler te word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button