Gottschalk-broers se reis na Bassmasters in VSA skop af
Hulle is een van vyf spanne, die enigste een in Laeveldse geskiedenis, om Suid-Afrika by vanjaar se Bassmaster Spankampioenskappe te gaan verteenwoordig.

Plaaslike hengelaarbroers, Ben en Frank Gottschalk se visstokke is gelaai en hulle is gerat om die grotes in Suid-Carolina, Amerika in te katrol.
Hulle is een van vyf spanne, die enigste een in Laeveldse geskiedenis, om Suid-Afrika by vanjaar se Bassmaster Spankampioenskappe te gaan verteenwoordig. “Sedert die droom ‘n paar maande gelede ‘n realiteit geword het, fynkam ek en Ben die internet en YouTube vir wenke,” sê Frank, wat inderdaad van hierdie geleentheid gebruik gaan maak om met ‘n wen terug te kom. “‘n Wen sal beteken dat ek en Ben uiteindelik ons droom om professioneel te hengel, sal kan najaag,” vertel hy.
Hy vertel dat Ben ‘n finesse-hengelaar is, terwyl hy self meer aanvallend en vinnig hengel, en dit is wat die Gottschalk-kombinasie só dodelik maak. “As die een metode nie werk nie, gebruik ons die ander,” vertel hy, en dít laat dikwels swartbaars van 3 tot 4 kg en selfs so swaar as 5,16 kg (Frank se beste) en 6,12 kg (Ben se beste) aan hul lyne byt.
Lees ook: Laeveldse broers gekies vir Bassmasters in Amerika
Frank verduidelik dat verskeie visse tydens die toernooi by Lake Hartwell geteiken kan word, maar dat hulle visier spesifiek op grootbek- , gespikkelde en kleinbekbaars ingestel sal wees. Die muntstuk kan egter albei kante toe val. “Lake Hartwell is geweldig gewild onder kompeteerders, en juis daarom is dit erg onder druk,” vertel hy.
Hulle is egter vasberade, en sou na verwagting Donderdag-aand in Atlanta land.
Met die groot waters wat hulle aanpak, word drie oefendae gegee, waarna die kompetisie amptelik op 11 Desember afskop. Dag een sal bepaal wie aanbeweeg, en die proses sal so voortgaan tot die top 10 en uiteindelik die wenners op 14 Desember aangewys word.
“Dis soos ‘n droom, om amper elke naweek ons passie vir die water en natuur te kan uitleef. Nou is ons kans om die Laeveld, Mpumalanga en Suid-Afrika te verteenwoordig. Dit is asemrowend. Eerstens kan ons net die Here dank vir al sy seën, en dan natuurlik vir al ons familie, vriende, borge en medehengelaars het ons ook nie genoeg dankies nie,” vertel hy. Die borge sluit in Laeveld Agrochem, Extreme Fishing Tackle en Tripwired, om maar net ‘n paar te noem.
