ONTMOET: Faan Roodt
Selfs as polisieman het Roodt ook vir die SAPD se nasionale span geskiet.

Faan Roodt van Witrivier is ‘n bobaasskut wie se liefde vir die sport ontkiem het toe hy op die ouderdom van 21 in jag
belangstelling begin toon het.
Die 78-jarige Roodt is vir die afgelope 48 jaar ‘n lid by die White River Shooting Club en neem gereeld deel aan hul skietbyeenkomste. Die oudpolisieman het 34 jaar in die SAPD gedien.
“Ek het na 34 jaar by die polisie op vroeë pensioen gegaan en bly tans by die SAVF Rustig Ouetehuis in Witrivier,” het hy vertel.

LEES OOK: Die verskil tussen vervalsing en uitgifte as ‘n misdaad
Selfs as polisieman het Roodt ook vir die SAPD se nasionale span geskiet. Op ‘n tydstip was hy selfs derde in die land en het ook talle medaljes en trofeë as skut ingepalm.
“Deurentyd het ek omtrent 120 medaljes, waarvan meeste goud was, en verskeie trofeë gewen.”
Roodt se skietvernuf en kranigheid op die skietbaan beteken dat hy graag by skietbyeenkomste sy vaardigheid met ‘n pistool en haelgeweer dikwels op die proef stel teen veel jonger skuts.
“Dit gaan vir my oor deelname. Die klublede toon baie goeie kameraadskap teenoor mekaar. Die ervare skuts is altyd by om die jonger lede te help met raad.”

LEES OOK: Opknapping van die sokkerbal begin
“Die sport beteken vir my so baie omdat dit baie konsentrasie en dissipline verg. Veiligheid is natuurlik ook vir ons
die hoogste prioriteit.
“As ek by ‘n byeenkoms is en ek kan nog skiet, maak dit my verskriklik bly.”
Die ervare skut en senior burger stel konsentrasie, toegewydheid, dissipline en opleiding as vereistes vir nuwelinge wat by die sport wil aansluit.
LEES OOK: Kind loop maande met pynlike en skewe arm
“Enigiemand wat belangstel in skiet as ‘n sport hoef net kers te kom opsteek by die skietbaan en ‘n geselsie aanknoop met die skuts wat altyd gretig is om raad te gee.”
As jy dalk vir Roodt op straat verbystap, moenie dat sy ouderdom jou verlei nie. Hy is ‘n bekwame skut wat oor vyf
tot 20 m die teiken kan skiet met ‘n pistool. Sy afstand met ‘n haelgeweer strek van 25 tot 300 m.
