Huis Bethlehem hou gholfdag vir fondsinsameling
Huis Betlehem het aan die einde van verlede jaar hulle tweede suksesvolle gholfdag op Witrivier Country Club se gholfbaan gehou.

Altesaam 24 spanne het om die trofee in die Stableford Betterball-kompetisie meegeding en Werner Pakendorf en Ciska Bouwer van die Ampath-span het met die louere weggestap.
Die span “Henry en Francois” van Rustig Ouetehuis was tweede en is gevolg deur span “Christiaan en Wayne” van NTT Toyota kort op hul hakke.
Ciska Bouwer was ook die individuele wenner van die dag terwyl die langste dag aan span “Morah en Michelle” van Dulini behoort het.
Verskeie mededingende maatskappye het die verskillende bowwe en setperke beman. Die mooiste bof het aan Mpumalanga Roofing & Coating behoort, terwyl Heidel Eiers met die meeste gees gespog het.
LEES OOK: Witrivier-stoeiers wys hul staal tydens nasionale byeenkoms
By byna elke bof het ‘n prettige verrassing op spelers gewag. Die aand is met prysoorhandigings en ‘n aansitete afgesluit.
Die fondsinsameling sal Huis Betlehem help om kinders wat vanweë omstandighede uit hul ouerhuise verwyder moes word, te versorg. Sulke kinders word tydelik deur liefdevolle huisouers by een van die huise versorg.

Die huise word soos gewone huishoudings bestuur en dra alle kostes daarvoor self. Dit sluit water en elekstrisiteit, brandstof en kruideniersware in. Huis Betlehem ontvang tans nog geen staatsubsidie nie en is dus afhanklik van skenkings vanuit die gemeenskappe van hoofsaaklik Mbombela en Witrivier.
Huis Betlehem is al vir meer as 20 jaar in bedryf, maar word ook erg deur die ekonomie gekortwiek. Só ‘n gholfdag of ander fondsinsamelings is dus broodnodig om die geldkoffers vol te hou en te verseker dat die kinders versorg kan word.

Vanjaar het 31 kinders reeds hierby gebaat en meer as 415 oor die afgelope 20 jaar. Huis Betlehem is ‘n plek van veiligheid, wat beteken dat die meeste kinders slegs vir ‘n korttermyn bly en dan uitgeplaas word.
Dit kan wel gebeur dat hulle langer bly. Daar is tans vyf kinders in Mbombela se huis en vier in Witrivier.
Huis Betlehem is baie dankbaar teenoor NTT Toyota Witrivier as hoofborg, maar het ook elke ander maatskappy en individu bedank vir hul betrokkenheid en ope hande met ondersteuning van die dag, asook vir donasies en pryse.
