UITSLAE: NHS Interhuis 2020 sorg vir groot opwinding
Vanjaar se BUCO Interhuis het gewis vir geen ander jaar se byeenkoms teruggestaan nie.
Die jaarlikse interhuis-atletiekbyeenkoms is tradisioneel, wat deelnemende getalle betref, die grootste sportgebeurtenis op enige skool se jaarkalender.
By NHS beteken dit ook dat verskeie SA-atlete, asook tientalle interhoërkampioene, mekaar die stryd aansê. Vanjaar se BUCO Interhuis het gewis vir geen ander jaar se byeenkoms teruggestaan nie. Die feit dat bykans 80 atlete die vorige week se oefenkamp bygewoon het, het gewis tot die hoë peil wat gehandhaaf is, bygedra. Die Atheners (1 410,5) het vanjaar die botoon gevoer, deur gemaklik met die Spartane (1 192) en Trojane (1 047,5) af te reken.

Lees ook: Thriston narrowly misses out on Eye of Africa PGA Championship
Die gesogte geesbeker het weer eens die stembande oortyd laat werk, en die spangees het deurentyd van opgewonde mededinging en suiwer Nellie-plesier getuig. Uiteindelik is die Atheners as die 2020-wenners op die pawiljoen aangekondig, met die Spartane in die tweede plek.
Puik prestasies is gelewer, wat duidelik geïllustreer word deur die indrukwekkende vertonings waarvoor vanjaar se individuele trofee-wenners, verantwoordelik was. Wat die velditems betref, gaan die trofee vir seuns aan verlede jaar se SA-spiesgooikampioen vir seuns 17, Zander van der Merwe. Zander het die item vir seuns 19 (met die swaarder 800g-spies) met ‘n skitterende gooi van 67,58 m ingepalm.
Onder die meisies was dit weer Ashley Erasmus wat vroeg-vroeg in die nuwe seisoen met ‘n puik 43,38 m die Nellie-rekord in skyfwerp m.15 laat spat het. Op die baan het Marco Capazorio hom nie deur die hoër hekkies vir seuns 16 laat intimideer nie, toe hy sy eerste 110 m-item van die jaar in ‘n baie belowende 14,79 sek. afgeblits het. Rhodé Nel (m.17) is as beste meisie in baanitems aangewys, nadat sy Suzaan Nel se Nellie-rekord van 12,25 sek. in die 100 m, geëwenaar het.
Vanjaar se beste atlete in elke ouderdomsgroep (victor en victrix ludorum, met meeste punte vir die span, gebaseer op beste vier items, die ABSA-punte bymekaar getel) is soos volg:

• Seuns 14: Callum van Staden
• Meisies 14: Tanya Pieterse
• Seuns 15: Charles Nel
• Meisies 15: Shanese de Clerck
• Seuns 16: Marco Capazorio
• Meisies 16: La-Alizia Venter
• Seuns 17: Dawie van Heerden
• Meisies 17: Rhodé Nel
• Seuns 19: Douw Kruger
• Meisies 19: Tayla Kotzee.
