Local sportSport

ONTMOET: Johan Rudolph

Die ervare krieketafrigter se naam is sinoniem met krieket in die Laeveld

Johan Rudolph, oftewel “Coach” Jo, het sedert sy aankoms in die Laeveld vyf jaar gelede ‘n naam vir homself op die plaaslike kriekettoneel uitgekerf. Talle jong krieketspelers is deur sy hande. Sy ongeëwenaarde afrigtingskuns en -metodes het vinning daartoe gelei dat hy ‘n reputasie as topafrigter gekweek het.

As gevolg daarvan kan jy nie die sport noem sonder om sy naam in dieselfde asem te noem nie.

Die skool se skakelbeampte, Janine Cronjé, sê: “Hy is bekend vir sy uitmuntende werk as krieketafrigter, maar wat min mense weet, is dat hy self ‘n uithalerspeler is! Hy het vir onder andere in die Easterns en die Northerns Presidentspanne gespeel.”

Johan Rudolph en Xander Pitchers.

LEES OOK: Hoërskool Nelspruit gekroon as Mpumalanga kampioene na ‘n opwindende eindstryd

Rudolph is onlangs gekies om Namibië se veteraankrieketspan by die 50’s Krieket Wêreldkampioenskappe te verteenwoordig. Die toernooi vind oor minder as ‘n maand in Kaapstad plaas. Rudolph gaan kragte meet met legendariese spelers soos Jonty Rhodes, Shailendra Singh en Giles Ecclestone.

Johan het gesê: “Hierdie is ‘n eens-in-‘n-leeftyd-geleentheid en ek sien baie uit daarna om deel te wees van die Namibiese span en om teen verskeie bekende internasionale spelers te speel.”

Namibië is in Poel B en hulle gaan stewige kompetisie, soos Engeland, Pakistan, Wallis en Indië teëkom. Wat intussen voorlê is streng oefening in die gimnasium en in die krieketnette.

Johan Rudolph tydens ‘n oefeningsessie.

LEES OOK: NHS se nuwe adjunk sê hy voel reeds tuis

Volgens Cronjé reken Rudolph dat die moeilikste uitdaging vir die 50-jarige en ouer spelers die veldwerk gaan wees. Daar lê nog vele uitdagings voor vir Rudolph vanjaar.

Van Maandag tot Vrydag werk hy en Xander Pitchers hard by die Johan Rudolph Krieketakedemie om die sowat 140 aspirantkrieketspelers van gr. 1 tot matriek veskillende tegnieke en vaardighede te leer.

“Jy hou net nooit op met leer nie. Krieket as ‘n sport groei en ontwikkel deurentyd. Dit verg baie geduld en harde werk, maar die beloning is om die vordering in elke individu te sien,” het hy gesê.

LEES OOK: Die stryd om weer te loop

Pitchers het ‘n jaar gelede by die akademie aangesluit. Sy eerste indrukke van Hoërskool Nelspruit en die fasiliteit was blywend.

“My hart is gewen toe ek die eerste keer met die kinders begin werk het. Hulle is baie leergierig en nederig,” het hy gesê. Tot dusver was dit vir hom ‘n groot hoogtepunt toe ‘n paar van sy o/13-seuns die Mpumalanga-span gehaal het.
Die twee stem saam dat die sukses van die akademie goeie kommunikasie is.

Johan Rudolph neem ‘n welverdiende blaaskans.

LEES OOK: Groener weivelde vir voormalige FLASH bevelvoerder in Mogadisjoe

Die goeie verhouding wat gevorm word tussen die afrigters en spelers is besonders. “Ons gaan hierdie jaar aanhou en net verbeter.”

Die Johan Rudolph Akademie sien uit na die opgradering van die binnenshuise fasiliteite en die Laerskole T20-toernooi, wat hulle vir die tweede keer gaan aanbied.

“Verlede jaar was ‘n reusesukses en vanjaar beloof weer ‘n uithalertoernooi! Indien jy belangstel om meer te weet van die akademie, kontak vir Johan Rudolph by 079-620-0604. Hulle het nog plek vir spelers Vrydagmiddae.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button