Robbies skitter by LJ Prokureurs-atletiekbyeenkoms
Jamie-Ann Panter van Hoërskool Barberton het 'n skitterende vertoning in spiesgooi gelewer. Sy het die spies 36,36 m deur die lug laat seil.

Hoërskool Rob Ferreira het verlede Vrydag die jaarlikse LJ Prokureurs-atletiekbyeenkoms by die skool aangebied.
Atlete van sowat vyf plaaslike hoërskole het in die byeenkoms meegeding. Die verrigtinge het met die o/16-meisies- spiesgooi begin en namate opgewarm toe die atlete in die verskeie ouderdomsgroepe hul bekwaamheid in die verskillende items gewys het.
LEES OOK: Open Water Series a gruelling test of endurance
Haar naaste teenstander, Ashton Muller se spies het op 32,25 m geland. Die dag was vol uitmuntende vertonings deur die atlete wat puik prestasies vir die toeskouers gelewer het.

Genevieve Hambidge, afkomstig van Hoërskool Middelburg, het haarself goed van die taak in die o/17-dogters 200 m-naellope gekwyt en het kop bo skouers met ‘n tyd van 26,2 sekondes uitgestaan. Boonop het Genevieve ook 814 Absa-punte versamel.
In die seuns o/17 se 200 m-wedloop was Girshwin Nkosi van Hoërskool Rob Ferreira die wenner met ‘n tyd van 22,06 sek. en ‘n allemintige 806 Absa-punte. In die o/17 800 m-wedloop het Zanele Sehohle die wenstreep in 02:20.4 bereik.

Die Hoërskool Rob Ferreira-leerling het dan ook 825 Absa-punte losgeslaan. In die langafstande het die bekende Danny de Figuereido van Hoërskool Bergvlam die eerbewys in die wedloop in ‘n tyd van 04:08.8 met 801 Absa-punte behaal.
Hoërskool Rob Ferreira se Sibusiso Malapane het die seuns 0/17 se 3 000 m met ‘n tyd van 08:13.8 verower, met ‘n ongeëwenaarde 1 019 Absa-punte. Erin Merensky en Larischa Kelly, onderskeidelik van Hoërskool Rob Ferreira en Hoërskool Lydenburg, was stewige kompetisie in die o/15-dogters 90 m-hekkiesnaellope.
LEES OOK: Penryn parents fight it out on the golf course
Erin en Larischa het eerste en tweede plek in hierdie streng betwiste wedloop geneem. Albei dogters het die Absa-punte ingereig. Erin het 815 en Larischa 802 punte versamel. Junior Mondlane van Rob het die vlag ook hoog laat wapper tydens die o/17 seuns 110 m-hekkies in ‘n tyd van 14,56 sek.

Junior het dan ook 829 Absa-punte ingesamel. In die o/19 seuns 110 m-hekkies is Thabiso Magutle van Rob die wenner in ‘n tyd van 14,53 sek. Hy het ook 848 Absa-punte ingereig. Ander noemenswaardige prestasies op die atletiekbaan sluit ook Larischa se optrede in die o/15- dogters 300 m-hekkies wat sy in 48,54 sek. behaal het.
Junior het ook opslae in die verspring gemaak met ‘n uitstekende 6,98 m-sprong.
