Local sportSport

ONTMOET: Oubaas Coetzer

Na 42 jaar in die polisie het Oubaas Coetzer besluit om finaal oor te skuif rugby toe, om die hoof van die skeidsregters in die Mpumalanga Skeidsregtersunie te word. 

Coetzer het as kind geweet hy wil ‘n polisieman word na hy toe al diewe vasgetrek het.

Hy en sy vriende het vanaf ‘n funksie huis toe gestap en diewe betrap wat besig was om ‘n winkel te beroof. “Ek het gedink dit is ‘n goeie werk om skelms te vang,” sê Coetzer.

KYK OOK: Hoërskool Rob Ferreira is reg vir interhoër

Die polisielewe in Skukuza was vir Coetzer wonderlike jare, waar hy saam met sy vrou hulle twee seuns grootgemaak het.

“Ek dink nie ek sou so lank ‘n polisieman gewees het as ek in die stad sou moes woon nie. Ek is dankbaar dat ek naby die wildtuin kon werk,” sê Coetzer.

Gedurende sy polisiejare het hy rugby gespeel en met meer as 1 500 rugbywedstryde agter die rug, het hy besluit om nie meer seer te kry nie.

“Elke Saterdag het die span my steeds gebel om te speel. Ek wou deel wees van rugby, en dit is hoe ek besluit het om ‘n skeidsregter te word,” sê Coetzer.

Hy het die range van skeidsregters uitgeklim net soos met die polisierange.

LEES OOK: Atlete spook dit uit by Mbombela-kringbyeenkoms

Met sy aftrede by die polisie het hy ‘n pos as bestuurder van die Mpumalanga Skeidsregtersunie aanvaar.

“Op 64-jarige ouderdom voel ek nog goed en dankbaar dat my vrou my al die jare in my passie ondersteun het,” sê Coetzer.

Sy planne vir die toekoms is om nog steeds by rugby betrokke te wees, en uit te help waar hulle hom nodig het.

Hy beplan ook om einde 2021 van dorp tot dorp te ry met sy karavaan, en om sy koffie te geniet.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button