Laerskool Barberton vat die voortou by interlaer
Laerskool Barberton het verlede Saterdag die toon aangegee vir die opwindende NTT Toyota Interlaer op Hoërskool Barberton se atletiekvelde.

Ouers, atlete, ondersteuners en Laerskool Barberton-personeel het gesorg dat die geleentheid ‘n ongekende sukses was.
Vanjaaar se tema was “Van toeka tot nou”, ter herinnering aan die dorp se mynbougeskiedenis en Laerskool Barberton, Laerskool Nelspruit, Nelspruit Primary, Laerskool Bergland, Laerskool Laeveld en Laerskool Witrivier het op die dag meegeding.
Barberton se skoolhoof, Robert Naudé, het al die borge vir hul ondersteuning bedank en die atlete aangemoedig om hul beste op die veld
te lewer.
“Al die deelnemers onderneem en belowe plegtig om vandag deel te neem met ywer, sonder jaloesie, vasberade maar beleefd, want die
belangrikste in die lewe is nie oorwinning nie, maar uithouvermoë; nie die beloning wat jy ontvang nie, maar jou ingesteldheid.Deelname
aan atletiek kan baie meer beteken vir hy wat verloor, as vir die wat wen, omdat baie wenners die grootste nederlaag in die oorwinning kan
ervaar, terwyl baie verloorders die stryd as oorwinnaars oor hulself en hul teenstanders verlaat,” het Naude gesê.
Verder het hy sy dank teenoor Hoërskool Barberton uitgespreek vir die gebruik van hul sportvelde wat voorwaar gesorg het vir ‘n uitnemende dag van sport en samesyn.
LEES OOK: Atlete maak reg vir interhoër

Die atlete het deelgeneem in sowat 86 baan- en velditems en is nie afgeskrik deur die snikhete dag nie. Die eerste skoot het tot op die sekonde om 08:00 geklap.Die program was goed georganiseer en elke item het stiptelik plaasgevind.
Die gasheerskool het strawwe kompetisie teëgekom maar het nietemin daarin geslaag om twee goue, vier silwer- en twee bronsmedaljes los te slaan. In die o/8-seunsnaelloop oor 60m het Ashley Tiwane derde plek ingeneem met ‘n tyd van 09,73 en 790 ASA-punte gehaal. Bobongile Thwala wat in die o/7-seuns 60m deelgeneem het, het ‘n silwermedalje losgeslaan met ‘n tyd van 10,26.

Hy het danksy die prestasie ook 775 ASA-punte versamel. Ashley het sy optrede in die 60m verbeter toe hy in die o/8-seuns 80m die tweede plek ingeneem het. Hy het sodoende ‘n tweede silwermedalje by die skool se versameling bygevoeg.
LEES OOK: Albert Frost wys sy talente op die kitaar
In die o/11-seuns 100m-naellope het Anele Mkhwani ‘n tweede bronsmedalje vir Laerskool Barberton losgeslaan nadat hy derde plek ingeneem het. Die dogtersatlete het ook uitgeblink en Lebo Moloa het in die o/12-hekkies 150m ‘n silwermedalje gewen. Nothile Nhlengethwa het ook tweede plek in die o/10-dogtershekkies oor 100m geneem.
Kayla Zwane het beslis uitgeblink in die o/8-dogters 60m- en 80m-naellope en het in beide items ‘n goue medalje verwerf.
