FOTO’s: So oefen die Phakisa Pumas tydens inperking
Die Phakisa Pumas, wat eerskomende Saterdag in hulle eerste amptelike kragmeting van die Supersport-uitdaging op tuisfront teen die Cell C Sharks te staan sou kom, gaan nou alles in die stryd moet werp om topfiks te bly tydens die staat van inperking, sonder toegang tot 'n gimnasium. #LockdownFor21Days #LockdownSouthAfrica

Hierdie en ook die oefenwedstryd wat ook by Mbombela Stadion op 28 Maart teen die Blue Bulls gespeel sou word, is tot verdere kennisgewing uitgestel.
“As ‘n organisasie wat op die gemeenskap gefokus is, moet ons ‘n voorbeeld stel deur aan SA Rugby, sowel as die regering, gehoor te gee,” het die hoof van die Mpumalanga Rugby-unie, Pieter Burger, onlangs gesê.
Dit beteken egter nie dat die span op hulle louere gaan rus nie. Inteendeel, die span het met talle vindingryke maniere vorendag gekom om aktief te bly totdat die seisoen hervat.
Louis Janse van Rensburg, die span se krag- en kondisionerings-hoof, sê die belangrikste wapen wat die spelers nou moet inspan, ‘n noukeurige eetplan is.
“Dit is een ding waaroor jy nou volkome beheer het,” het hy gesê. “Hiervoor het jy nie ‘n gimnasium of enige toerusting nodig nie.”
Hy voeg by dat die geringste veranderinge, soos die uitsny van koolhidrate en suiker, ‘n wesenlike verskil kan maak. Dit beteken egter nie dat oefening nie belangrik is nie – die een hand was die ander.
“Die oefenprogramme wat ek vir elkeen uitgewerk het, behels hoofsaaklik die gebruik van eie liggaamsgewig en sluit oefeninge soos plank, opstote en -trekke, opsitte en spronge (burpees) in,” het hy gesê. Wat vir Janse van Rensburg verblydend is, is om te sien dat spelers en selfs bestuurslede toerusting uit die gimnasium geneem het om tuis te oefen. “Ons moet reg wees vir die seisoen wat voorlê, ongeag wat dit behels.”
LEES OOK: Hoe om te hardloop op ‘n balkon
Vir Jan Publiek wat in dieselfde bootjie as die spelers is, het Janse van Rensburg gemaan om positief te bly en kreatief te raak.
“Beplan jou maaltye elke dag vooraf of selfs vir ‘n week vooruit. Dit sal verhoed dat jy 15:00 besef dat jy nog nie geëet het nie en na tjips gryp,” vertel hy.
Let op die hoeveelheid koolhidrate en suiker wat drank bevat.
“Drink eerder ‘n ligte bier of whiskey en vermy hardehout soos brandewyn. Drink baie water, oefen vroeg, kry die gesin aan boord en hou mekaar verantwoordbaar,” sê hy.





