‘n Rolprent oor Gerrie Coetzee binnekort op die lappe
Dit is byna 40 jaar sedert die alombekende Gerrie Coetzee Afrika se eerste swaargewig-bokskampioen geword het.
‘n Verdeelde nasie is op 23 September 1983 vir ‘n oomblik herenig toe Coetzee, of die Boksburg Bomber soos wat hy later bekend gestaan het, die Wêreldboksvereniging-swaargewigkampioenskaptitel met ‘n uitklophou in die 10de ronde in Ohio in die Richfield Kolosseum teen Michael Dokes ingepalm het.
Dié geskiedkundige opstopper het Coetzee in New York onder die mes laat beland, en met sy terugkeer in Johannesburg het ‘n kontingent van nuwe aanhangers, onder wie die destydse minister van buitelandse sake, Pik Botha, hom ingewag vir ‘n helde-ontvangs. Selfs oud-president Nelson Mandela het ‘n gelukwensing uit die tronk aan Coetzee geskryf.
Was dit nie vir Laeveld-gebore en getoë Thinus Strydom (73) as Coetzee se bokspromotor nie, was dié legende se verhaal dalk heel anders.
Name soos Gerrie Coetzee word alombekend danksy die werk van ‘n goeie bokspromotor, en in sy geval was dit die voormalige burgermeester van Barberton, Thinus Strydom.
‘n Bebloede, verflenterde handdoek – dieselfde een as wat voor die hoofkragmeting tussen Coetzee en Mike Koranicki in die vroeë 1980s gebruik is, het Strydom heeltemal van stryk gebring.
LEES OOK: NHS se eie prinses Diana oorlede
Dit was die begin van Strydom se uiters betekenisvolle bydrae in die sportwêreld – nie net vir Coetzee nie, maar ook vir manne soos soos Hansie Cronjé, Dingaan Thobela (Rose of Soweto), Francois Botha (Die Wit Buffel) en Keppler Wessels, om maar net ‘n paar te noem.
“Twee dae na die geveg kon die gebore entrepreneur in my nie anders as om my misnoë teenoor Coetzee uit te spreek en met ‘n plan vorendag te kom nie,” het hy gesê, waarop Coetzee “Wat kan jy anders doen?” geantwoord het.
Strydom het hom verseker dat hy nooit weer ‘n vuil handdoek in die kryt hoef te gebruik nie en toe Coetzee besluit het dat Strydom nét die persoon is om hom na hoër hoogte te neem, het die wêreldbekende suksesverhaal begin.
Later daardie jaar, in 1983, het Coetzee die aandag van Don King getrek en die idee vir ‘n bokswedstryd tussen Coetzee en Dokes is gebore. President Distributors (DEFY Mpumalanga) wat vir die afgelope 49 jaar deur Strydom besit word, was Coetzee se enigste as borg.
Die sukses van nie net Coetzee se loopbaan nie, maar Strydom se invloed as bokspromotor, is onlangs deur ‘n Amerikaanse filmmaatskappy Fontabila Productions raakgesien.
Strydom het bevestig dat die verfilming van Gerrie vir Augustus geskedelueer is. Liam Hemsworth sal die rol van Gerrie Coetzee vertolk, maar dit is nog nie bekend wie die rol van Strydom sal speel nie.
Coetzee se suksesvolle loopbaan was vir Strydom ‘n duikplank vir die stigting van World Sport Promotions in 1987, wat tot vandag toe met groot sukses deur hom en sy seun Eric vanuit Barberton bedryf word.
LEES OOK: Mbombela ma’s vier Moedersdag met hulle grendelstaatbabas – Ontmoet Baba Zane
