Sterspeler verbreed sy horison
Die 26-jarige Jeandré Rudolph, wat in 2018 by die Phakisa Pumas aangesluit het, verruil binnekort sy pienk trui vir dié van die verdedigende Curriebeker-kampioene, die Toyota Cheetahs.
Rudolph het bevestig dat hy in die Laeveld sal aanbly totdat sy tweejaarkontrak met die Pumas aan die einde van Oktober amptelik verstryk.
Hy het tot 2022 ‘n kontrak as speler met die Cheetahs onderteken, en sal op 1 November begin skouers skuur met spelers soos Frans Steyn en hopelik eersdaags ook in die Guinness PRO14 speel.
Die span het hom in ‘n verklaring as ‘n veelsydige speler wat in enige posisie in die agterry ingespan kan word, beskryf.
“Hy is uitgeknip vir die Cheetahs en sal ‘n aanwins vir enige span wees,” het hulle gesê en bygevoeg dat sy verdediging rotsvas is en sy spelpatroon ongeëwenaard is.
Rudolph het aan Laevelder gesê dat hy opgewonde is om sy nuwe hoofstuk in die Rosestad af te skop, en dat hy dankbaar vir die geleentheid is om ook in die Guinness PRO14 sy staal te wys.
“Ek sien veral uit om kragte met die topspelers van Italië, Ierland, Skotland en Wallis te meet,” het hy gesê, en voeg by dat sy eie spanontwikkeling in die Noordelike halfrond tans vir hom baie belangrik is. “Wie weet? Dalk baan dit die weg vir ‘n rugbyloopbaan oorsee,” het hy gesê.
LEES OOK: Standard Bank Innibos Kunstefees – Digitaal en wêreldwyd!
Voordat hy hier aangesluit het, het hy ook sy staal by die Luiperds asook Pukke (as kaptein) gewys, en vroeër vanjaar sy Superrugby-debuut gemaak toe hy as leenspeler vir die Vodacom Blue Bulls uitgedraf het. Sy tyd by laasgenoemde is egter weens verskeie redes gekortwiek.
“Rudolph was ‘n uitstaande speler, ‘n goeie leier en ‘n ongelooflike aanwins vir die Pumas, veral as jy kyk vanwaar hy kom. Hy verdien elke geleentheid wat na sy kant toe kom.
Ons glo dat ons hierdie seisoen weer sal rugby speel, en is bly om Rudolph vir die res van die seisoen by ons te hê waar hy verder waarde tot die span kan voeg. As afrigter, is dit vir my ‘n pluimpie.
Dit wys dat die Pumas iets reg doen. Net soos ons al verskeie Springbokke soos Faf de Klerk en Duane Vermeulen opgelewer het.
Vroeër vanjaar het Le Roux Roets ook as leenspeler vir die Cell C Sharks uitgedraf, en Marko Janse van Rensburg vir die Xerox Golden Lions. Ons meet onsself aan die geleenthede wat spelers by die groter unies kry,” het Phakisa Pumas-afrigter, Jimmy Stonehouse gesê.
“Ek gaan die kultuur, asook die vriende wat ek op en van die veld af hier in die Laeveld gemaak het, mis,” het Rudolph gesê en bygevoeg dat hy baie dank aan die Pumas en afrigter, Jimmy Stonehouse, verskuldig is vir die geleentheid om vir die span uit
te draf.
LEES OOK: AfriForum ondersteun skole met hulppakket
