Local sportSport

Pumas berei voor vir rillerseisoen

Die Phakisa Pumas het ter voorbereiding van die eerste provinsiale wedstryde wat eersdaags afskop, mekaar Vrydag die stryd op Mbombela Stadion aangesê. Sou die span met dieselfde intensiteit speel, word 'n rillerstryd verwag wanneer hulle eerskomende Saterdag die Vodacom Blue Bulls om 10:00 in 'n oefenwedstryd op eie bodem aanpak.

Volgens hoofbreier, Jimmy Stonehouse, is die groep van 54 spelers in twee spanne ingedeel om die sogenaamde koring van die kaf te skei.

https://www.facebook.com/158345657516798/videos/361933231837520/

Die belangrikste, volgens Stonehouse, was egter kontak, balhantering en dissipline tydens ‘n kragmeting. Laasgenoemde het veral onder die vergrootglas beland nadat dit die span verlede seisoen gekortwiek het.

Daarvoor is die kundigheid van SA Rugby-skeidsregter, Marius van der Westhuizen ingespan, wat hierdie twee spanne in alle erns op hulle tone gehou het. Hy het na afloop van die wedstryd genoem dat hulle op die afbreekpunte sal móét verbeter.

“Om teen mekaar te speel is een ding, maar om teen ‘n ander unie te speel behoort ‘n beter uitvoering van die wedstrydplan na vore te bring,” het Stonehouse gesê en bygevoeg dat hy dankbaar is vir geen ernstige beserings nie en tevrede is met die span se entoesiasme.

https://www.facebook.com/158345657516798/videos/646085782778712/

Hy het bygevoeg dat Japie Kleinhans, wat vir die heelagterposisie oorweeg word, ‘n agter-dyspierbesering opgedoen het, maar slegs vir twee weke buite aksie sal wees. Daar is baie op die spel vir die Phakisa Pumas, wat veral daarna streef om in die Curriebeker-veldtog ‘n beter seisoen as verlede jaar te hê.

   

Byna al die wedstryde in die veldtog is soos aas uit ‘n vis se bek gegryp en die Pumas is so hittetit na die eerste divisie relegeer. Maar, danksy ‘n wegholoorwinning teen die Down Touch Griffons was hulle plek in die premierliga bespreek.

Vanjaar se reeks het egter ‘n gedaanteverwisseling ondergaan, en sal voortaan bekendstaan as die Vodacom Super Rugby Unlocked, gevolg deur die Curriebeker wat as die tweede rondte sal dien.

LEES OOK: Só lyk die Pumas-groep vir die seisoen

Die oorblywende sewe provinsiale spanne, na die Southern Kings vir vrywillige likwidasie aansoek gedoen het, is Vodacom Bulls, Cell C Sharks, Emirates Lions, DHL Stormers, Toyota Cheetahs, Tafel Lager Griquas en die Phakisa Pumas.

https://www.facebook.com/158345657516798/videos/3582770785114540/

Die span met die meeste punte aan die einde van die Unlocked-reeks, stap nie net met die louere weg nie, maar dring ook deur na die Curriebeker. Die eerste wedstryde vind na verwagting op 10 Oktober plaas.

Die tweede rondte – die Curriebeker – begin op 28 November en sal afsluit met ‘n halfeindrondte op 16 en 23 Januarie 2021. SA Rugby het egter nog nie die bepalings amptelik bekend gemaak nie. Die Pumas se volgende oefen-wedstryd vind op 3 Oktober teen die Lions in Emirates Airline Park plaas. Tot verdere kennisgewing word geen toeskouers nog by wedstryde toegelaat nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button