Só lyk die span wat die Cheetahs Saterdag in Bloemfontein pak
Die Pumas kom Saterdag om 16:30 in hulle eerste Vodacom Super Rugby Unlocked-wedstryd teen die Toyota Free State Cheetahs in Bloemfontein te staan.
Die Phakisa Pumas het die afgelope naweek tydens hulle tweede oefenwedstryd van die seisoen teen die Xerox Golden Lions te staan gekom.
In skrille kontras met hulle 50-38-oorwinning teen die Vodacom Bulls verlede naweek, het die span op Emirates Airline Park kleigetrap. Volgens hoofbreier, Jimmy Stonehouse, moes die span met ten minste 25 punte na die eerste helfte voorgeloop het. Maar talle geleenthede het deur hulle vingers geglip en teen rustyd was die Pumas 5-0 voor nadat vleuel, Luther Obi agter die doellyn gaan kuier het.

Die Lions het egter hulle kloue ingeslaan toe stut, Marné Coetzee met ‘n gebreekte arm die veld verlaat het. Dié terugslag onder andere, het 33 punte aan die kant van die Lions tot gevolg gehad. Coetzee sal vir die res van die seisoen buite aksie wees.
Die Pumas kom Saterdag om 16:30 in hulle eerste Vodacom Super Rugby Unlocked-wedstryd teen die Toyota Free State Cheetahs in Bloemfontein te staan.
Laasgenoemde is gewond na die onlangse omstredenheid rondom die Pro14, en die Pumas het steeds ‘n bitter smaak in hul mond na die 43-37-nederlaag in die 2019-seisoen, wat byna tot relegasie na die eerste divisie tot gevolg gehad het. Dus word ‘n hoë tempo-katgeveg verwag, en die span wat die hongerste is en daarop kan kapitaliseer, sal uiteindelik met die louere wegstap.
Vir die Cheetahs word vier Springbokke vir Saterdag se span se agterlyn oorweeg, waaronder Frans Steyn, Oupa Mahoje, Rosko Specman en Ruan Pienaar. Die volledige span is nog nie bekend nie.
Vir die Pumas sal ou bekendes soos Morgan Naudé en Marko Janse van Rensburg hulle buiging in die voorry maak, terwyl Ruan Kramer in die plek van Coetzee sy debuut in die nommer drie-trui sal maak. Cameron Lindsay en Le Roux Roets is terug as slotpaar, en Daniel Maartens en Kwanda Dimaza sal beide hul Puma-debuut in die flankposisie maak. Willie Engelbrecht sal in sy 47ste wedstryd vir die span die nommer 8-posisie beklee en Ginter Smuts is terug op skrumskakel.
ALSO READ: Phakisa Pumas player to don green and gold
Eddie Fouché maak sy eerste verskyning in ‘n pienk trui en sal sy skopskoen op losskakel aanwend. Neil Maritz, wat in Februarie volgende jaar by die Blitsbokke-oefengroep aansluit, sal saam met oud-Cheetah, Luther Obi op vleuel begin. Ryan Nell sal die span as binnesenter op die veld lei, met Wayne van der Bank wat ook sy debuut op nommer 13 sal maak. Devon William sal op die laaste linie van verdediging sy 51ste verskyning vir die Pumas op heelagter maak.
Op die plaasvervangersbank is Liam Hendricks, Simon Westraadt, Dewald Maritz, Darrien Landsberg, Jeandre Rudolf, Dian Badenhorst, Neil Marais en Ruwellyn Isbell.
Die wedstryd sal om 16:30 regstreeks op DStv-kanaal 211 uitgesaai word.
