Phakisa Pumas troef Griquas in Kimberley
Die Mbombela-span se verdediging was rotsvas en goeie lynstaanwerk het telkemale omgekeerde besit bewerkstellig.
Die Phakisa Pumas het op ‘n snikhete Saterdagmiddag hulle eerste oorwinning in die Super Rugby Unlocked-reeks op Tafel Lager Park behaal.
Die Mbombela-span se verdediging was rotsvas en goeie lynstaanwerk het telkemale omgekeerde besit bewerkstellig.
Saam met die geoefende skopskoen van Eddie Fouché, het Devon Williams, Ginter Smuts en Neil Maritz met ‘n drie elk tot die eindtelling van 27-21 bygedra.
Die Tafel Lager Griquas se kaptein, George Whitehead het die eerste punte aangeteken toe die Pumas ‘n strafskop afstaan.
ALSO READ: Pumas and Griquas announce their teams for Super Rugby Unlocked clash
Die besoekers het egter geantwoord met Smuts wat die eerste drie van die wedstryd aangeteken het. Fouché kon skoonskip van ‘n uitdagende doelskop maak en die telling was 7-3.
Na onkantspel deur die Pumas het Whitehead sy tweede strafskop deur die pale gestuur, en minute daarna het Fouché nog drie punte bygevoeg – 10-6.
Drie minute voor rustyd het linkervleuel, Maritz, ‘n uitstekende beweging met ‘n drie afgerond en Fouché het verdoel.
Griquas-slot, Victor Sekekete het kort voor rustyd, ondanks ‘n desperate poging deur Francois Kleinhans, die tuisspan se eerste drie aangeteken.
Die Pumas se voortou van 17-11 was ‘n goeie weerspieëling van hulle soliede vertoning sover, maar ook heelwat kanse wat nie benut is nie.
Met die aanbreek van die tweede helfte het Pumas vuisvoos voorgekom en plaasvervanger, Adré Smith het na ‘n rolmaalbeweging vyf punte vir die Griquas bygevoeg.
Goeie spel deur Fouché en Phumzile Maqondwana is deur heelagter, Devon Williams afgerond en eersgenoemde het sy foutvrye skopsyfer vir die wedstryd behou. In slegs sy tweede wedstryd vir die Pumas, is hy as man van die wedstryd aangewys.
Die Pumas kom eerskomende Vrydag teen die DHL Stormers om 19:00 te staan. Geen toeskouers word toegelaat nie.
Puntemakers:
Phakisa Pumas
Ginter Smuts (5)
Eddie Fouché (12)
Neil Maritz (5)
Devon Williams (5)
Tafel Lager Griquas
George Whitehead (11)
Victor Sekekete (5)
Adré Smith (5).
