Local sportSport

Phakisa Pumas gereed vir kragmeting met Lions ondanks beserings

Die Lions is ook nie van beserings gespaar nie en sal Saterdag sonder staatmaker, Gianni Lombard, moet klaarkom.

Na die afgelope naweek se blaaskans, kom die Phakisa Pumas Saterdag vir die eerste keer sedert die begin van die Super Rugby Unlocked-kompetisie, teen die Lions op Emirates Airline Park te staan.

Dit met ‘n krukkelys wat aanhou groei. Volgens die Pumas se hoofbreier, Jimmy Stonehouse, staan die aantal beserings reeds op agt, met die mees onlangse dié van vleuel, Neil Maritz, en losskakel op die plaasvervangersbank, Neil Marais. Stonehouse het meegedeel dat beide spelers waarskynlik vir die res van die seisoen buite aksie sal wees. Ander beseerdes sluit Alwayno Visagie, Eddie Fouche, Le Roux Roets, Marné Coetzee, kaptein Ryan Nell en AJ le Roux in.

Die Lions is ook nie van beserings gespaar nie en sal Saterdag sonder staatmaker, Gianni Lombard, moet klaarkom.
Morgan Naudé en Ruan Kramer sal hulle buiging op stut maak met Simon Westraadt op haker. Pieter van Vuren sal weer as slot en kaptein die span op die veld lei, met Darrien Landsberg aan sy sy.

Francois Kleinhans en Phumzile Maqondwana sal op flanke uitdraf, en Willie Engelbrecht is terug op agtsteman. Chriswell September sal sy debuut op skrumskakel maak, met Fiela Boshoff wat sy tweede wedstryd vir Pumas op losskakel sal speel.

Luther Obi is terug op linkervleuel en Etienne Taljaard op regtervleuel. Erich Cronjé en Wayne van der Bank sal weer as senterpaar uitdraf en Devon Williams is weer gekies as heelagter.

Die Pumas lê tans op sesde plek met vyf punte na slegs een Unlocked-oorwinning teen die Griquas. Die Lions is net bo hulle met 10 punte na een wen en een gelykopspel. Die wedstryd vind om 16:30 plaas en sal op DStv kanaal 201 uitgesaai word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Stefan de Villiers

Stefan de Villiers, based in Mbombela, Mpumalanga, is currently the Editor at Lowvelder. He brings a wealth of knowledge and experience from previous roles at Lowveld Media, such as Sports Editor, Journalist and Photographer. He started on November 1, 2013.
Back to top button