Afrigter haal herinneringe oor ontslape atleetvriend op
Afrigter Tommy Tesnar onthou nog die dag toe wyle Marius van Heerden die 25 jaar oue Suid-Afrikaanse 800 m-rekord van 1:44,7 na 1:44,57 verbeter het.

“Dit was op 12 April 1996; die ou Groenpunt-stadion was volgepak met 15 000 toeskouers. Ons het mekaar daarna elke jaar op 12 April gebel om oor daardie dag te gesels,” vertel Tom. Dié oproep sal nie weer plaasvind nie. Marius het op die ouderdom van 46 sy stryd teen Covid-19 in ‘n Kaapstadse hospitaal verloor.
“Hy het skielik stilgeraak en ons Desember-kuier moes uitgestel word. Op 13 Januarie het hy sy laaste boodskap aan my gestuur en gesê hy is in die intensiewesorgeenheid met Covid-19. Op 15 Januarie is hy aan ‘n ventilator gekoppel en op 22 Januarie is hy oorlede.” “Hy was ‘n stil, nederige mens. Baie gedissiplineerd en hardwerkend. As hy besluit het hy gaan iets doen, het hy dit met passie deurgevoer. Hy was ‘n ongelooflike groot kind van die Here en wonderlike pa en man vir sy gesin.|
LEES OOK: Dié knapie verskyn eersdaags op die kassie
Al die jare wat ons hom ken, was hy altyd besorgd oor sy ouers,” sê die Tesnar-egpaar van 30 jaar, Andriesa en Tommy, wat hulself in 2000 in die Laeveld kom vestig het. Tommy vertel dat Marius ook ‘n teëstander van sy oorlede seun, Conrad, self ook ‘n baie goeie atleet, was. In 1994 het Marius Tommy genader en gevra vir hulp. “Almal het in daardie stadium gesê hy is ‘uitgebrand’.” Marius was 19 jaar oud en het gesukkel om sy tye te verbeter, en só het Tommy en Marius se reis, wat vandag nog in die geskiedenisboeke aangeteken word, begin.
Tommy se liefde vir afrigting het begin toe hy sy eie kinders tot in die rekordboeke afgerig het. Hulle interhoërrekords van 1986 staan tot vandag toe. In Mei 1994 het Tom vir Marius begin afrig. “Hy was letterlik in die woestyn – niemand het in hom geglo nie. Hyself het nie meer geglo hy is goed genoeg nie. Ek het gevra wat sy doelwit is. Hy wou Hezekiel Sepeng klop. Maar, dit was nie ‘n doelwit nie. ‘n Doelwit was om te kwalifiseer vir die Olimpiese Spele in 1996. Die doelwit was nie korttermyn nie.
LEES OOK: Ikoniese restaurateur en hotelier van die Laeveld sterf
Tyd was nodig om te bereik wat hy wou. Sy gebrek aan selfvertroue moes oorkom word en kondisionering en baie harde werk het begin – baie trane en motivering,” vertel Tom. “Tye en vertoue het verbeter en die ‘piramiede van fiksheid en altetiek’ is mettertyd opgebou en verbeter. Die regte eet-, slaap- en leefgewoontes was baie belangrik. Hy moes baie opofferings maak. Aan die einde van die 1995-atletiekseisoen het hy wedlope begin wen. Sy tye was konstant en het geleidelik verbeter.
Hy moes 10 km in 30 min kon hardloop en van daar af het die res bymekaar gekom. Ek het gesê as hy ‘n droommyl kan hardloop, kan hy die SA-rekord breek, en dit is presies wat hy gedoen het,” sê Tom. “Marius was ongelooflik hardwerkend en het met alles in hom in Tommy geglo,” vertel Andriesa. “Hy was dapper, vasberade en gedissiplineerd. Hy het alles saam met sy Skepper gedoen en hy het ‘n brandende wil gehad om te presteer.
LEES OOK: Vyfjarige seun toets positief vir Covid-19
Ons onthou spesifiek hoe hy voor elke wedloop langs die baan met ‘n klein Bybeltjie gesit en gelees en gebid het, en na die tyd dankie gesê het,” vertel Tommy. “Nadat hy opgehou hardloop het, het hy in ‘n suksesvolle man ontwikkel. Hy was ‘n ongelooflike man en pa vir sy twee seuns en het homself ingeleef in hulle sportprestasies. Hy het altyd nederig gebly en was altyd ‘n voorbeeld en rolmodel vir ander, veral jongmense.”
