Local sportSport

Rekords spat BUCO-Interhuisbyeenkoms, Covid ten spyt

Alhoewel die atlete sekerlik na die ondersteuning vanuit 'n volgepakte paviljoen verlang het, was daar 'n onderlinge kameraderie en positiewe gees wat vir uithalervertonings gesorg het.

Die jaarlikse BUCO-interhuisbyeenkoms het, ondanks vele wysigings en aanpassings wat vanweë die Covid-regulasies nagekom moes word, nog eens vir pragtige prestasies en groot genot gesorg.

Alhoewel die atlete sekerlik na die ondersteuning vanuit ‘n volgepakte paviljoen verlang het, was daar ‘n onderlinge kameraderie en positiewe gees wat vir uithalervertonings gesorg het.

Dit is opvallend dat, alhoewel dit maar die begin van die atletiekseisoen was, die atlete reeds op ‘n gevorderde stadium van afrigting en na aan topvorm is.

Die juniors (seuns en dogters onder 14 en 15) was eerste oor in aksie, met die seniors (onder 16, 17 en 19) die dag daarna. Daarna is die onderskeie spanne se punte bymekaargetel en die algehele trofeëwenners aangekondig.

Vanjaar was die Atheners in beide die seuns- en dogtersafdeling te sterk vir die Trojane en Spartane. Hulle seuns wen die trofee met 672 punte, gevolg deur die Trojane met 664,5 en Spartane met 550,5. Wat die dogters betref, het die Atheners amok gemaak. Hulle totaal van 806 punte het die Trojane se 465 en Spartane se 457 ver agtergelaat. Uiteindelik is die Atheners (1 478) dan 2021 se interhuiskampioenspan, gevolg deur die Trojane (1 129,5), met die Spartane in derde plek (1 007,5).

Tradisioneel word daar by ‘n interhuisbyeenkoms die beste atleet (seun en dogter) in elke ouderdomsgroep gekroon. Na dese spog ‘n hele aantal atlete met nuwe interhuisrekords. Ashley Erasmus (dogters 16) het nuwe rekords in gewigstoot (15,67 m) en skyfwerp (39,42 m) geslaan. Eergenoemde was die beste prestasie van die dag, wat volgens die uitdagende nuwe ASA-tabel vir Ashley 969 punte in die sak gebring het en 902 vir skyfwerp. Met hierdie twee prestasies het sy korte mette van twee Nellie-rekords (die beste in die skool se geskiedenis) gemaak.

In gewigstoot het sy Ilke Joubert se 2015-rekord van 13 m na ‘n ongelooflike 15,67 m verbeter. Ook Shana Scott se 36,11 m in skyfwerp (in 2019 geslaan), het voor Ashley se wenpoging van 39,42 m geswig.

Groentjie Vaughn van Zyl (seuns 14) het die oë laat rek toe hy met skitterende afstande van 50,96 m (skyfwerp) en 14,59 m (gewigstoot) losgetrek het. Ook Hannes Botha (seuns 17) lyk op hierdie vroeë stadium na ‘n SA-atleet, met ‘n spiesgooiafstand van 67,35 m. Tanya Pieterse (dogters 15) het die 90 m-hekkies in ‘n pragtyd van 14,66 sek. afgeblits, en Marco Capazorio (seuns 17) het ook gewys dat hy groot planne vir die jaar het toe hy die 110 m-hekkies in ‘n rekordtyd van 14,53 sek. gewen het.

Vanjaar se victor en victrix ludorum in elke afdeling is soos volg:
Seuns:
• 14 – Janco Small
• 15 – Ian Wood
• 16 – Ruben Vorster
• 17 – Marco Capazorio
• 19 – Christo Nel.

 

Meisies:
• 14 – Megan Botha
• 15 – Tanya Pieterse
• 16 – Shanese de Clerck
• 17 – Zané Potgieter
• 19 – Nicci Viljoen.

> Photo: Hennie Homann/hhphotoxpress.co.za

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Stefan de Villiers

Stefan de Villiers, based in Mbombela, Mpumalanga, is currently the Editor at Lowvelder. He brings a wealth of knowledge and experience from previous roles at Lowveld Media, such as Sports Editor, Journalist and Photographer. He started on November 1, 2013.
Back to top button