Local sportSport

NHS en Robbies blink uit in Secunda – gerat vir SAs in die Paarl

Verteenwoordigers van verskeie plaaslike skole, waaronder uitblinkers van Hoërskool Rob Ferreira en Hoërskool Nelspruit, het die Laeveld daar verteenwoordig.

Die room van die provinsie se atlete het onlangs in Secunda bymekaargekom om in die Mpumalanga-atletiekkampioenskappe vir hulle plekke in die provinsiale span kragte
te meet.

Verteenwoordigers van verskeie plaaslike skole, waaronder uitblinkers van Hoërskool Rob Ferreira en Hoërskool Nelspruit, het die Laeveld daar verteenwoordig.
Die byeenkoms vir seniors en hoërskole is deur winderige toestande bemoeilik, en om vir SA’s wat vandeesweek in die Paarl plaasvind te kwalifiseer, was meer uitdagend as gewoonlik.
Dit het ook goeie prestasies gekniehalter en talle atlete kon nie na aan hulle persoonlike beste presteer nie.

Dit het egter nie die Laevelders teruggehou nie. Rob Ferreira het dié toestande en stillerige atmosfeer sonder toeskouers trotseer en 62 top 10-posisies behaal en 30 medaljes ingepalm – 10 goud, 12 silwer en agt brons.

Tien Robbies het ook as Mpumalanga-kampioene in hul items weggestap.

Die topprestasie van die dag behoort egter aan hoofseun Junior Mondlane (seuns 19). Hy is nie net as kampioen in die 110 m-hekkies met ‘n tyd van 14,96 gekroon nie, maar sy ongelooflike sprong van 7,53 m het atletiekliefhebbers behoorlik aan die gons.

Met dié sprong oortref hy kwalifiserende afstande van SA’s (6,90 m), SA seniors (7,30 m) en die wêreldjeugkampioenskappe (7,42 m).

Junior was as o/15 reeds as nasionale driesprongkampioen gekroon, en poog om dieselfde in verspring, sy gunstelingitem, te bereik.

Hier is die Robbies wat tans aan SA’s (vanaf 7 tot 10 April) in die Paarl deelneem
• Erin Merensky
• Zanele Sehohle
• Sydney Mandelkorn
• Caitlin Dehrman
• Lwazi Mogodiri
• Thapelo Nkuna
• Connor Barnes
• Junior Mondlane.

Vir NHS was die dag ‘n uitstalvenster vir die hoë standaarde wat by die skool gehandhaaf word. ‘n Aantal van 28 medaljes is huis toe gebring: 10 goud, nege silwer en nege brons. Verder dra agt Nellies vanjaar die kroon as Mpumalanga-kampioene in hul items, waarvan twee elk twee items gewen het. Hulle is die konstante Ashley Erasmus (meisies 17, gewigstoot en skyfwerp) en Nicci Viljoen (meisies 19, 200 m-naellope en 100 m-hekkies).

Ashley het in gewigstoot (16,10 m – 970) en skyfwerp (43,43 m – 945) bo 900 ASA-punte verwerf. Onder die seuns, was die hekkies-
“tweeling” Handré van der Merwe en Marco Capazorio weer NHS se beste atlete, toe elk twee medaljes in die 110 m- en 400m-hekkies ingepalm het.
Jolanke van Zyl het haar eie Nellie-rekord in spiesgooi meisies 17 na ‘n uitstekende 42,69 m verbeter.

Hier is die NHS-atlete wat in die Paarl deelneem

• Nathan Duncan
• Marco Capazorio
• Handré van der Merwe
• Hannes Botha
• Tanya Pieterse
• Ashley Erasmus
• Shanese de Clerck
• La-Alizia Venter
• Jolanke van Zyl
• Charné Strydom.

Laerskool Nelspruit, wat onder Lowmed/NHS-klub se vaandel deelgeneem het, se Zané Nel en Zoë Cilliers vir meisies 13 het met vyf medaljes tussen hulle huiswaarts gekeer. Zané wen die skyfwerp (31,85 m), en eindig tweede in gewigstoot (12,09 m) en spiesgooi (22,09 m). Zoë het beide naellooptitels (100 m in 13,64 sek. en 200 m in 28,24 sek.) ingepalm.

Lowveld High School se Nolwazi Mashaba maak steeds opslae op die sand, en sal na haar 5,54 m in verspring en 11,62 m-driesprong haar skool naasaan Bandile Sifunda en Yulin Chabane verteenwoordig.

Laasgenoemde het een goud en een silwer in Secunda ingepalm, en Bandile een silwer met sy hoogte van 1,98 m in die seuns 20-item. Vukani Ngwenya sal Hoërskool Barberton se naam in die Paarl hooghou nadat hy sy persoonlike beste in die 400 m-hekkies in ‘n tyd van 54,86 sek. gehardloop het en ‘n bronsmedalje verower het.

> Foto’s: Skywall Art

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Stefan de Villiers

Stefan de Villiers, based in Mbombela, Mpumalanga, is currently the Editor at Lowvelder. He brings a wealth of knowledge and experience from previous roles at Lowveld Media, such as Sports Editor, Journalist and Photographer. He started on November 1, 2013.
Back to top button