NHS staan hulle man by Noord-Suid Skolerugbytoernooi
Hoërskool Nelspruit se Rhinos was een van die enigste, en ook die eerste spanne uit die Noorde, wat die wa deur die drif kon trek.
Die langverwagte Noord-Suid Skolerugbytoernooi, wat verlede week op die sportterrein van die Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria afgehandel is, is in ‘n baie groot mate deur deelnemende skole uit die suidelike dele van die land oorheers.
Hoërskool Nelspruit se Rhinos was een van die enigste, en ook die eerste spanne uit die Noorde, wat die wa deur die drif kon trek. Dit het Saterdag teen Hoërskool Duineveld plaasgevind toe die Rhinos klipharde rugby in uitdagende omstandighede gespeel het.
Teen rustyd het die Rhinos met 10-7 voorgeloop. Christiaan Gates, bekend as die generaal onder sy spanmaats, het altesaam 20 punte op die telbord geplaas. Dit sluit drie doelskoppe, ‘n strafskop en twee drieë in.

Werner Geldenhuys is egter as die speler van die wedstryd, wat met 34-7 deur NHS beklink is, benoem.
Die Mambas, NHS se tweede span, het Vrydag in hulle eerste wedstryd sedert die inperking teen Duineveld se tweedes te staan gekom.
Die Mambas was uit die staanspoor in beheer en het teen rustyd met 17-7 voorgeloop. In die tweede helfte het Duineveld egter met hernude asem die veld opgedraf, wat tot die einde toe vir ‘n naelbytstryd gesorg het. Duineveld het egter in die doodsnikke hierdie wedstryd met ‘n wentelling van 30-27 deurgetrek.
Danny van Staden is hier as speler van die wedstryd aangewys. Die afrigters is dit eens dat hierdie wedstryd ‘n goeie geleentheid vir die seuns gebied het, en dat hulle voluit karakter gewys het.
Die seisoen skop eersdaags amptelik af en die eerste vriendskaplike wedstryde vind Saterdag 8 Mei teen Menlopark plaas. Geen toeskouers word op of buite die grense van die perseel toegelaat nie. Toeskouers kan wel die wedstryde regstreeks op DigiTV kyk.
