Local sportSport

Hoërskool Nelspruit maak korte mette van Transvalia

Die losskakel, Christiaan Gates, het 17 punte ingepalm

Hoërskool Nelspruit het Saterdag, met die afskop van die Noordvaal Virsekerbeker-kompetisie, Transvalia goed laat les opsê.

Dit was die eerste keer sedert skolesport as gevolg van die Covid-19-pandemie halt geroep is, dat daar mededingend op NHS se tuisveld rugby gespeel is.

Duisende toeskouers het op DigiTV ingeskakel en die A-spanwedstryde regstreeks gekyk. Daar was hierdie keer ook deurentyd kommentaar gelewer deur PJ Coetzee en Christo Nel, albei gr. 12-leerders op die Rhinos se krukkelys, wat ‘n uitstekende taak verrig het. Hulle kennis en entoesiasme is aansteeklik.

Behalwe vir die o/15’s wat gelykop 14-14 gespeel het, en die tweede span wat met 12-13 verloor het, het al die ander spanne gewen.

NHS se eerste span was uitstekend en het Transvalia 42-3 kafgedraf.

Die losskakel, Christiaan Gates, het 17 punte ingepalm.

Christiaan en Transvalia se Tiaan Rossouw het vroeg in die wedstryd elk ‘n strafskop aangeteken.

Die res van die wedstryd het aan NHS behoort.

Christiaan het die span se eerste drie gedruk toe hy deur die verdediging kon glip en na Brent de Villiers uitgegee het. Dié het die aangee vinnig na hom toe teruggestuur, en vyf punte is op die telbord bygevoeg.

Hy het toe nog sout in die wonde gevryf met ‘n strafskop, kort voor Keenan Visser nog ‘n drie kon druk.

NHS was teen rustyd 16-3 voor.

Vroeg in die tweede helfte het Ewan Nieuwoudt nog ‘n drie gedruk danksy ‘n briljante sluipskiet deur Quinn van Zyl, wat die bal tot net voor die doellyn kon dra. Christiaan het die drie verdoel.

Luthando Mabuza het die volgende drie gedruk na NHS se agterspelers besit van die bal geneem het.

Dié linkervleuel het sy tweede drie gedruk na Werner Geldenhuys deur helfte van die Transvalia-span gebars het om Luthando te bemagtig om dit te kon doen. Christiaan het die twee punte ook geëis.

Die speler van die wedstryd, Christiaan, het die wedstryd beëindig met ‘n fopaangee wat die laaste linieverdediging gefnuik het, om ‘n drie te druk wat hy toe verdoel het.

NHS was te groot en sterk vir die span van Vanderbijlpark. Hulle skrums en lynstane was rotsvas en hulle fiksheid duidelik skynbaar op dié warm herfsdag.

Die uitslae is:
O/14A: NHS 40 – Transvalia 10
O/14B: NHS 31 – Transvalia 14
O/14C: NHS 38 – Transvalia 0
O/15A: NHS 14 – Transvalia 14
O/15B: NHS 50 – Transvalia 0
O/16A: NHS 22 – Transvalia 7
O/16B: NHS 18 – Transvalia 12
Tweede span: NHS 12 – Transvalia 13.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

markkinnear

Mark Kinnear is based in Mbombela and has 33 years’ experience in journalism, mainly on the sports beat. He has made his career in community media and has extreme passion for covering a wide variety of sports events.
Back to top button