Local sportSport

Rugbyvelde wemel weer met spelers by sewestoernooi

“Daar het ‘n feestelike atmosfeer geheers, wedstryde is baie vinnig na mekaar gespeel en daar was strawwe kompetisie tussen die spanne. Die toeskouers en seuns was ewe opgewonde om weer sport te kon doen en te aanskou.”- Iaan Jacob, Father’s Ground.

Die jaarlikse Father’s Ground 7’s-rugbytoernooi is die naweek weer by Laerskool Witrivier aangebied.

Die toernooi, wat in 2015 vir die eerste keer deur Danie Willemse en pa’s van die Father’s Ground aangebied is, het Vrydag met die opening van die Danie Willemse Telbord begin.

Die 7’s-toernooi en die videoskerm was deel van mnr. Willemse se nalatenskap by Laerskool Witrivier. Dit was dan gepas om, na sy afsterwe in 2018, die 7’s-toernooi op hierdie spesiale wyse te open. Sy vrou, Lizelle en seuns Ruann en Danie, was daar om dit saam met die spanne te deel.

Soos in die verlede het hulle almal hand bygesit, sy en Danie by die verkope en Ruann as die skeidsregter.

Sewes-rugbyspelers van nege verskillende skole en een sportklub het op 5 en 6 November Laerskool Witrivier se rugbyvelde by die 6de Father’s Ground-sewestoernooi plat gehardloop.

Anders as in die verlede, waar daar net o/11- en o/12-spanne deelgeneem het, het die Father’s Ground besluit om dié jaar ook o/13-seuns te laat speel, omdat hulle gedurende die pandemie so min tyd op die rugbyvelde kon deurbring. Drie-en-twintig o/11-, o/12- en o/13-spanne van onderskeidelik Witrivier, Arborpark, Noordskool, Lydenburg, Kruinpark, Goedehoop, Mariepskop en Laeveld Rugbyakademie het vir twee dae, in 60 wedstryde, kragte gemeet.

Die Father’s Ground wil die borge bedank, want sonder hul insette sou die toernooi nie kon plaasvind nie. Hulle bedank ook die Rob Legacy, ‘n soortgelyke organisasie by Hoërskool Rob Ferreira. Hierdie pa’s het die parkering en Covid-protokolle, gedurende die twee dae, behartig.

Die wenners van die verskillende afdelings is met goue-, silwer- en bronsmedaljes in elke ouderdom beloon, asook die onderskeie trofeë vir die beste speler en span in elke ouderdomsgroep.

In die o/11-ouderdomsgroep, het Laerskool Noordskool die goue medalje gewen. Laeveld Rugbyakademie en Laerskool Lydenburg het onderskeidelik silwer en brons verower.

Die o/12’s se gouemedaljewenners was Laerskool Witrivier, met Laerskool Lydenburg wat die silwermedaljewenners, en Laerskool Noordskool wat die bronsmedaljewenners was.

Die o/13’s se gouemedaljewenners was Laerskool Noordskool van Polokwane, met Laeveld Rugbyakademie wat die silwermedalje gewen het, en Laerskool Arborpark van Newcastle wat die bronsmedaljewenners was.

Die span van Noordskool het vanjaar nou al 18 wedstryde in ‘n ry gewen en het met hierdie oorwinning hul derde toernooi vir die jaar behaal.

Die wenners van die speler van die toernooitrofeë vir elke ouderdom was:
• o/1: Thuto Ngoepe van Laerskool Noordskool.
• o/12: Kgontse Masilela van Laerskool Witrivier.
• o/13: Smiley Mokona van Laerskool Noordskool.

Father’s Ground is ‘n organisasie wat uit ‘n groep pa’s van Laerskool Witrivier bestaan. Hulle poog om deur fondsinsamelingsfunksies ekstra fondse te in om projekte te voltooi en sodoende die skoolfasiliteite te verbeter. Father’s Ground bedank elke lid, wat in watter wyse ook al, gehelp het. Ons sien uit na volgende jaar om die toernooi nog beter en groter te maak.

Foto’s: JC Kotze/Platinum Photography

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

markkinnear

Mark Kinnear is based in Mbombela and has 33 years’ experience in journalism, mainly on the sports beat. He has made his career in community media and has extreme passion for covering a wide variety of sports events.
Back to top button