Oumagrootjie haal goud
Ouderdom is slegs 'n nommer - vra net oud-Komatipoort Akademie onderwyser, Lee du Plessis. Dié 65-jarige het vroeër vandeesmaand, tydens haar eerste probeerslag, goud in hekkies verwerf.
KOMATIPOORT – Sy het boonop ook goud in hoogspring, en silwer in die 100 m-naellope ontvang – dit in twee kampioenskappe op dieselfde dag. Du Plessis het by Gauteng-Noord Master 2021 se atletiekbyeenkoms in Pilditch Stadion haar prestasies behaal en het die geleentheid gebruik om met dieselfde items aan Suid-Afrika se virtuele atletiekkampioenskap deel te neem.
Tydens ‘n geesvangnaweek by Komatipoort Akademie, het die gr. 7’s haar uitgedaag om in te skryf en een van die skoolleerders, Jayden Enslin, het aangebied om haar ná skool met hekkies touwys te maak. Liani de la Rey het haar juffrou gehelp deur haar 100 m-tye te neem soos Du Plessis geoefen het.
LEES OOK: Mitologiese grapmakers maak moles in Mbombela
“Jayden is ons junior hekkiesatleet. Hy is 12 en ek 65. Hy het die wêreld se geduld gehad, en onthou, ek het nog nooit hekkies aangepak nie. Aan die begin het ek die hekkies omgespring, maar toe word al my foute uitgewys en hoe ek daarop kon verbeter,” het Du Plessis gesê.
Sy was aanvanklik huiwerig toe sy uitvind dat haar eerste item vir die dag hekkies was, maar het met die motivering van haar skoolleerders en vriende deurgedruk en dit gewen. Sy het voluit vir haar skool gehardloop en gespring.
Du Plessis het vanjaar as onderwyser van Komatipoort Akademie afgetree en was baie dankbaar oor hoe haar pad met die skoolkinders met goud geëindig het. Haar atletiekloopbaan het in 2007 as ‘n marathonatleet vir KwaZulu-Natal begin. In 2012 het sy na baan- en velditems oorgegaan. Sy het in daardie jaar Suid-Afrika tydens die Afrika-spele verteenwoordig en haar eerste goue medaljes in hoogspring, spiesgooi en verspring verwerf.
LEES OOK: FOTO’S: Innibos Kuns-in-beweging-parade
