Local sportSport

IN FOTO’S: Nellies en Robbies vat Affies by NHS-tuisbyeenkoms aan

Die Nellies en Robbies se naelloopatlete het puik in die aflosse gevaar.

Hoërskool Nelspruit en Hoërskool Rob Ferreira se atlete het hulle by NHS se vriendskaplike atletiekbyeenkoms goed van hul taak teen die twee Affies-skole gekwyt.

Die jaarlikse byeenkoms word deur NHS aangebied om die nuwe jaar se atletiekseisoen in goeie gees en kompetisie af te skop. Pretoria se Afrikaans Hoër (beide seuns en dogters) maak elke jaar ’n draai in die Laeveld om deel te neem, en dié jaar was geen uitsondering nie.

Hoërskool Rob Ferreira besoek ook jaarliks vanuit Witrivier, terwyl Hoërskool Ermelo en Hoërskool Middelburg se atlete dié jaar terug by die byeenkoms verwelkom was. Hoërskool Bergvlam het ook ’n klein span uitgesoekte atlete ingeskryf, terwyl die meerderheid Ermelo toe gereis het om by Ligbron Akademie te kompeteer.

‘n Ekstatiese Wezile Madonsela na Rob Ferreira se oorwinning in die seuns o. 19-aflos. > Foto: Blake Linder

Dit was ’n dag van skitterende atletiekaksie van begin tot einde. Die eerste items het al om 08:00 afgeskop, en na ’n lang dag in die Laeveld-hitte het die aflosse net na 17:00 tot ’n einde gekom. Die atlete het onder die witwarm Laeveldsomerson gekook.

NHS se nuut gelegde atletiekbaan was in goeie toestand weens die feit dat dit in September/Oktober verlede jaar opgegradeer is. Dit het gesorg dat die rekords gespat het, en nie minder as 12 atlete het hulle name in die byeenkoms se rekordboeke geskryf.

Isabel Prinsloo van NHS. > Foto: Blake Linder

Vele atlete het hulle merke op NHS se velde agtergelaat, maar niemand meer as trotse o. 17- Nellies-atleet Menzi Shiba, wat gesorg het vir vier goue medaljes op dié dag. Hy het goud in die verspring (6,91 m; 882 punte), 110 m-hekkies (14,91 sek.; 784), 400 m-hekkies (55,97 sek.; 775) en die 200 m (23,19 sek.) verwerf.

Hoërskool Ermelo se Kryn Romijn (o. 19-seuns) het drie van sy skool se agt goue medaljes (100 m, 200 m en 400 m) en ’n nuwe rekord in die o. 19-seuns 400 m verwerf met ’n tyd van 47,54 sek.

Kryn Romijn het drie goue medaljes vir Hoërskool Ermelo ingepalm. > Foto: Blake Linder

Aan die dogters se kant het NHS se Chenade Botma (o. 15) ook ’n goue driekuns huis toe geneem met oorwinnings in die 200 m (26.52 sek.; 848), 400 m (63,53 sek.; 806); en verspring (4,92 m). Die dag het op ’n onvergeetlike noot geëindig met die 4×100 m-aflosse.

Dit was naelbytwedlope gewees. Rob Ferreira het uitstekend in die seunsaflosse gevaar, waar hulle die o. 17- en o. 19-wedlope gewen het – dit is die tweede opeenvolgende jaar wat hulle met die o. 19-seunsaflos se goud wegstap.

NHS se dogters het tydens die aflosse geseëvier, met ’n oorwinning in die o. 17-wedloop en ’n medalje in elke ander ouderdomsgroep. Affies se twee skole het algeheel die meeste medaljes vir die dag ingepalm, met NHS in die tweede plek. Middelburg was derde, Ermelo vierde, Rob Ferreira vyfde en Bergvlam sesde op die medaljetabel.

> Foto’s: Blake Linder

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Blake Linder

Blake Linder is based in Mbombela and is a Senior Journalist at the Lowvelder. He carries with him nearly a decade's worth of experience in media. He has previously worked as News Editor, but now primarily focuses on Sport News, having previously won awards for both his sports writing and photography.
Back to top button