Witrivier se Reyneke trap sy kompetisie plat
Reyneke het in sy laaste resies strategies te werk gegaan om eersteplek te kon wen.
Die negejarige Reyneke van Heerden het onlangs aan die SA Bergfiets Jeugkampioenskappe deelgeneem, waar hy al sy teenstanders in die stof laat byt het deur met niks minder as die goue medalje weg te stap nie.
Die kampioenskap is op 4 Julie in Karkloof in KwaZulu-Natal gehou en het uit twee afdelings bestaan. Die oggend was daar ‘n tydren en die middag het die CyclingSA Youth Festival XCC (kort baan) plaasgevind. Reyneke het aan beide in die nipperkategorie deelgeneem en in al twee dissiplines sy stem dik gemaak.
Hy het in die tydren ‘n vyfde plek verwerf, maar dit was in die kort baanwedren waar hy kop en skouers bo die res uitgetroon het. Die baan is 1,7 km lank, jy moet 10 minute lank ry plus een finale ronde. Die hele kort baan-wedren is uitdagend en kliphard.

Met die wegspring (van ongeveer 30 van die land se bestes) het Reyneke vyfde gelê, maar hy het homself in ‘n japtrap in die tweede plek bevind. Na die eerste ronde het hy en sy teenstander van Gauteng van die groep weggebreek, en die twee was vir die res van die resies kop aan kop, dán was hy voor en dán sy teenstander.
Reyneke was vasbeslote om eerste te eindig. “Op die laaste draai van die laaste ronde was hy seker een fietslengte agter,” het sy ma, Mariska gesê. “Maar hy het homself só geposisioneer dat hy sy opponent gedwing het om die draaie wyd te vat, en sodoende kon hy vir homself die binnebaan verseker en met meer spoed uit die draaie kom.”
Reyneke was eerste oor die wenstreep en het die SA’s Nipper XCC met slegs ‘n paar sentimeters gewen.
Hy is ‘n gr. 4-leerder by Laerskool Witrivier en word in November 10 jaar oud, maar hy en fietsry kom al vir jare saam. Sy familie is fietsry-entoesiaste en hy was van kleins af lief vir sy driewiel- plastiek- skopfiets. Na sy pa die derde een moes weggooi omdat die wiele deurgery was, het sy ouers vir hom ‘n balansfiets vir sy tweede verjaardag gekoop.
“Van daar af was hy op sy fiets, en ek dink nie dit was drie maande later nie, toe tel hy sy voete op en balanseer homself op ‘n tweewielfiets. Nie lank daarna nie is hy oor na ‘n gewone trapfiets. Voor hy vyf was, het hy aan sy eerste resies deelgeneem,” het Mariska gesê.

“Vroeër vanjaar het hy sy Mpumalanga-kleure in die padfietsafdeling verwerf, en dit met ‘n bergfiets, en is gekies om die provinsie by die SA Champs-padfietsafdeling in Oktober in Oudtshoorn te verteenwoordig.”
“Reyneke skuif volgende jaar op na die sprogkategorie (11 en 12 jaar oud), so dit gaan ‘n uitdagende jaar wees. Maar ons oefen hard en gaan ons beste gee!”
Sy aandag is vir nou eers op die TWK-skolereeks, waar hy vir seker nog vele goue medaljes behoort in te palm.
