Zander Groenewald vlieg hoog na Duitsland
Zander het al op negejarige ouderdom sy modelvliegtuiglisensie ontvang.
Zander Groenewald, ‘n 14-jarige seun van Mbombela, gaan op 26 Julie geskiedenis vir die Laeveld maak wanneer hy in Duitsland aan die FAI F3K Wêreldkampioenskappe deelneem.
Zander, ‘n gr. 9 leerder by Hoërskool Nelspruit, is ‘n voornemende vlieënier en is deel van die Lowveld Model Aircraft Association (Lomac). Wanneer hy volgende week in dié kompetisie gaan meeding, sal hy die eerste lid ooit van Lomac wees wat aan die wêreldkampioenskappe deelneem.
Hy het op ‘n baie vroeë ouderdom belangstelling in vliegtuie, vliegwese en sodoende vliegsport begin toon danksy sy pa, Alec, se betrokkenheid by modelvliegtuie.
“Ek het altyd saam met my pa gegaan toe hy gaan vlieg het en aan kompetisies deelgeneem het, so dit het vir my reeds van kleins af baie interessant gelyk,” het Zander aan Laevelder gesê.

Die meeste mense dink aan ‘n afstandsbeheervliegtuig as ‘n modelvliegtuig met ‘n afstandskakelaar wat ‘n klein enjintjie beheer. Maar die klas waarin Zander sy vaardigheid gewys het, is die DLG F3K-klas. Waarvoor staan die DLG? Dit staan vir discus launch glider (diskussweeftuig).
Hoe werk dit? ‘n Mens hou jou modelvliegtuig op twee hake aan die punt van sy vlerk vas en slinger die sweeftuig die lug in, nes jy ‘n diskus op die atletiekbaan sal gooi. Van daar af gebruik jy ‘n afstandskakelaar om die sweeftuig se vlug te beheer deur sy flaps (klappe), ailerons (rolroer) en rudder (roer).

“Dit is incredible hoe hoog die ouens hulle gliders kan gooi,” sê Alec. Zander se taak is dan om sy sweeftuig vir ‘n sekere tydperk, wat deur die beoordelaars bepaal word, in die lug hou. Die take geskied altyd binne ‘n 10 minuut periode en daardie 10 minute kan vier take van 2,5 minute elk behels, of wat ook al die beoordelaars wil hê.
Die proses om vir die FAI F3K Wêreldkampioenskappe te kwalifiseer, was ook nie maklik nie, sê Alec. “Dit was amper ‘n jaar se proses, want hy moes aan verskeie streeks-, provinsiale en nasionale kompetisies deelneem, om sy plek in die SA span te werf.”

Zander oefen weekliks op die Lomac-landingstrook in Rocky Drift, waar hy sy talente al van vroeg af ontwikkel het. Hy het reeds op negejarige ouderdom sy modelvliegtuiglisensie ontvang en van toe af, was daar geen keer nie.
Zander het al baie kompetisies gewen, maar ook net soveel verloor. “Dit het hom van vroegs af geleer dat alles nie net jou way kan gaan nie, daar is sleg met die goed, maar ons kan nie bekostig om vas te haak op iets as dit nie goed gaan nie,” sê Alec.
“Ek geniet dit rêrig om die sweeftuie te vlieg, dit is ‘n baie goeie uitdaging en ek leer konstant daaruit,” vertel Zander.

Hy is nie net kundig met ‘n afstandskakelaar in sy hande nie, maar ook in die klaskamer en op die hokkieveld. “Ek moes die hokkie bietjie opsy skuif, maar ek is baie bly ek het, want ek sien baie daarna uit om in Duitsland deel te neem.”
Die kompetisie begin Saterdag, 26 Julie. “Ek is nogal nervous, maar ek is meer excited as enigiets anders,” sê Zander. Lesers kan die kompetisie hier volg: www.f3k2025.fun.
